Ingeperk maar uitgestyg
deur Johan Laubscher
Wie kon ooit die verloop van hierdie jaar voorspel het? Maar soos ons die vraag in die bekende liedjie sing: “wat maak ’n Trekker ver in die veld as hy self sy kos moet gaarmaak?”, so is die vraag gevra: wat maak die PV-kandidaat in die tyd van inperking as die PV-teoretiese vraestel geskryf moet word?
Sedert 2018 word die jaarlikse PV-teoretiese vraestel elektronies geskryf. Wat ’n uitdaging in die begin was, ’n nuutjie, was nou die basis vir ’n volgende stap. Met elke PV-kandidaat op sy eie het die tyd aangebreek om met waardes die uitdaging van 2020 se PV-teoretiese vraestel aan te pak.
Belangrike voorafwerk is verrig: Die Nasionale Komitee: Verkennersake het van Cloud-tegnologie gebruik gemaak om seker te maak dat al die PV-kandidate gelyktydig die vraestel kon skryf, m.a.w. breër bandwydte is geskep, 2 oefenvraestelle is gelaai waarmee die PV-kandidate hulself kon toets en die PV-kandidate moes hulself registreer vir die aflegging van die elektroniese vraestel.
Nog was dit het einde niet met hekkies waaroor ons moes kom voor die PV-vraestel geskryf kon word: PV-kandidate kan moontlik nie toegang tot internet hê nie, swak internetverbindings en skryf die vraestel op jou eie, sonder toesig in ’n omgewing waar toegang tot kennis nie beperk is nie. Die uitgangspunt was: Ons PV-kandidate het integriteit en kan kode 2 van die Voortrekkers uitleef: ’n Voortrekker se woord is sy eer. Die PV-kandidaat het die volgende verklaring afgelê met die aanvang van die vraestel:
“Besef jy dat integriteit ’n kernwaarde is wat geassosieer word met die Presidentsverkennertoekenning en onderneem jy om hierdie vraestel met nodige inbors en goeie karakter af te lê soos dit ’n ware Presidentsverkenner betaam?
- a) Ja
- b) Nee”
Op 20 April 2020 teken 225 Verkenners aan om 2020 se PV-teoretiese vraestel af te lê: Die opgewondenheid hang in die lug, daar is selfs ’n Graad 8- en Graad 10-Verkenner wat gereed is om te skryf … Net 2 van die 225 Verkenners kon nie elektronies skryf nie en voltooi die vraestel per hand.
En die uitslag: 225 Verkenners voltooi hul vraestelle binne die toegelate 2 ure en al 225 Verkenners slaag die vraestel met ’n gemiddeld van 73.8%.
Baie geluk PV-kandidate van 2020! Baie dankie aan elkeen vir die bydrae om oor hierdie hekkies te kon seil.
’n Groot dank aan elke lid van die Nasionale Komitee: Verkennersake vir ure se stoei en roei; dit was elke sekonde die moeite werd.
Kyk gerus hier na ‘n video van die Transvaal-kandidate: https://www.facebook.com/groups/527878823972197/
Vrystaatse kandidate was o.a. Sonita Bezuidenhout en Johanne Heyns (CR Swart-kommando) en Christen van Coller (Frankfort-kommando).