Is E-leer die toekoms?
In 2015 was die waarde van die e-leer-mark $166.5 biljoen werd. In 2017 word daar voorspel dat die waarde sal toeneem tot $255 biljoen.
In ’n opname onder 25 000 jongmense wêreldwyd, het 77.84% van die respondente aangedui dat hulle al aanlynkursusse gedoen het. Die vraag is of e-leer tradisionele onderrig gaan vervang?
E-leer is ontwikkel vir studente wat nie lesings, om verskeie redes, kan bywoon nie. Aanpassings word gemaak om studente se studiebehoeftes te akkommodeer. E-leer vervang nie die dosent of onderwyser nie. Daar is altyd ’n persoon nodig om die inhoud op te stel, die les te struktureer of aktiwiteite op te stel om vordering te monitor. Daar is baie voordele aan e-leer verbonde. Studente kan self besluit waar en wanneer hulle werk. Hulle kan in die gemak van hulle eie huis teen hulle eie tempo werk. Dit is baie meer koste-effektief as tradisionele onderrig.
Dit is ook nie altyd vir Voortrekkers moontlik om opleidingsgeleenthede by te woon nie. ’n Rede hiervoor is byvoorbeeld afstande. Die ideaal is om saam met ander ’n opleidingsgeleentheid by te woon, idees uit te ruil, interaksie met ander te hê en verhoudings te bou. As dit egter nie moontlik is nie, is die aanlynkursusse van die Voortrekkers ’n opsie. Besoek die webwerf http://www.voriesopleiding.co.za.
Die Voortrekkers gebruik Moodle, ’n oopbron aanlynleer-platform. Hierdie leer-bestuurstelsel is die gewildste wêreldwyd en daar is tans 100 376 556 Moodle-gebruikers.
Daar is tans 301 persone wat geregistreer is vir die Voortrekkers se aanlynkursusse. Wêreldwye statistiek is dat ongeveer 15% van studente kursusse aanlyn voltooi. Reeds 35% van die geregistreerde gebruikers het die Intreekursus voltooi en 15% die Spanhanteringskursus. Baie geluk aan hierdie Voortrekkers vir hulle deursettingsvermoë en toewyding!
Die Voortrekkerbestuurskursus (Hoe om ’n Voortrekkerkommando te bestuur) kan ook aanlyn gedoen word. Dan is daar twee kort kursusse wat ook aanlyn beskikbaar is – Mentorskap in Die Voortrekkers en die Fasiliteringskursus.
E-leer sal nooit tradisionele onderrig vervang nie, maar dit kan gebruik word ter aanvulling van leer of as alternatief vir studente wat nie kursusse kan bywoon nie.
Deur: Karin Stoffberg