Jagters – deur die oë van ’n mentor

Thabakamp se Jagters, het baie dinge om na uit te sien, wat ’n indruk maak en altyd onthou word.

Die eerste twee entiteite wat die Verkenners raaksien, is nie noodwendig die mentors wat vir hulle wag nie, maar die twee gelukbringers: Daisy die pink eenhoringperd, en Zecora die zebra.

Die biosentrum by Ukutula is weer besoek en daar is breedvoerig verduidelik hoe navorsing gedoen word om die uitsterf van leeus deur TB te voorkom. Die leeus, jagluiperds, hiënas en ander diere wat help met hierdie proses kon ook gesien word. Party van baie naby af, selfs ’n bietjie te naby in die geval van ons twee mentors wat rooi gelek is deur die jagluiperds. Die hokke is nie daar om hulle gevange te hou nie, maar om hulle makliker te benader om seker te maak dat hulle gesond is. Die Verkenners het daarna met leeuwelpies gespeel en ’n baie nuuskierige hiëna. Die fasiliteerder, Oom Hendrik, se kruk was die beste ding ooit vir elke welpie, hiëna en volgroeide jagluiperd, en het gesorg vir vele kattekwaad onder die diere.

Na hierdie dag van pret met diere het ons die Verkenners gevat na ’n watergat, waar hulle spore kon soek en gipsvorms daarvan maak. Baie leeuspore is gevind.

Ons het ook boogskiet met hulle behandel en hulle ’n bietjie getoets daarin met ’n praktiese sessie waar hulle eers gewoond geraak het aan die boë en daarna na teikens geskiet het.

Maar die absolute hoogtepunt vir die Verkenners, veral die meisies, was die slag van ’n rooibok!

Ongelooflik baie inligting van die biologiese aspekte van die bok, tot hoe om die vleis te sny vir biltong (wat aan die einde van die kamp onder die kursusgangers verdeel word) is deur verskeie kenners op die onderskeie gebiede gegee.

Dis die kinders wat hierdie kursus bywoon wat ’n indruk los op ons as mentors. Hulle help ons om die kursus te verbeter, en elke nou en dan leer ons ’n bietjie meer van onsself saam met hulle. Veral wanneer ons saam met hulle so bietjie struikel met Bybelstudie.

So vir enige graad 9’s en 10’s wat belangstel in ’n ervaring van ’n leeftyd, kom skryf gerus in by die Jagters, net op Thabakamp.

Deur: Walt Laurence