Jakaranda 2019 – reik na die sterre

deur Annemaré de Kock

’n Volle 35! Dis hoeveel Jakaranda-gebiedskampe daar al plaasgevind het. Die kamp het sommer op ’n lekkkkkerrrr noot begin. Tydens registrasie was daar ’n vuurpyl vol fizzers en ’n stukkie verjaarsdagkoek vir elkeen – want dit neem baie energie om tent op te slaan.

Die tema “Reik na die sterre” is baie prakties benader en Jakaranda het sy eie ruimtestasie gehad met verskeie teleskope. Daar was geleentheid vir almal om die volmaan van nader te besigtig. Die brawes wat 4:00 opgestaan het, kon Saturnus met sy ringe en Jupiter met sy vier mane sien.

Sommer op die eerste dag het Kuifie by ons kom kuier en ook ander belangrike mense saamgebring. Jan-Albert het die Hoofleierstoekenning namens Jakaranda en GL Zandra die toekenning vir Hartebeesfontein ontvang. Die draairoomyse daarna was heel gepas op dié warm dag.

Die kinders het die buitelug-fliekaand onder die sterre met springmielies baie geniet. Daar was ’n mate van misterie daarin aangesien dit baie donker was. Jakaranda het gereeld onder beurtkrag deurgeloop. Boerekaskenades is aangebied en die kinders het hulle harte uitgespeel.

’n Vuurpyllansering uitdaging tussen Jan-Albert en Liesl (deur die veldkornette gereël) het groot vermaak aan die jeugdige kampeerders verskaf.

Die graad 7’s van die Erfgrond-kursus het ’n besoek gebring aan die diamantmyn by Cullinan om die verwerking van grondstowwe te besigtig. Die Medemenskinders het die Dynamic Women for Children Private Care Centre besoek en ’n spesiale ete vir die volwassenes op die kamp aangebied.

Ekosorg is deur die jagluiperd besoek. By Beeldende Kunste, Versamelkuns, Handwerk, Touwerk en Plantwaarneming is regte kunswerke en nuttige items op die kamp gemaak en saamgeneem huis toe. Baie interessante en praktiese vaardighede is baasgeraak by Redding, Spoorsny, Noodhulp, Vasbyt en die veldmuise.

Jakaranda se kos is net die beste en daarvoor werk die kombuisspan as ’n span saam.

Hierdie was oom Andries se 10de jaar in die kombuis. By die volwasse Spysenieringsgroep het entoesiastiese en begeesterde volwassenes teruggekom vanaf die buitelugkooksessie in die boskamp.

Kampleier Jan-Albert ontvang die tweede toekenning medalje vir besondere diens

silwer vanaf GL Zandra Machin.

Jakaranda 2019 was ’n regte feeskamp en dis te wyte aan die harde werk, toewyding en fyn beplanning van elke kampraadslid. Asook die onbaatsugtige diens wat elke volwassene en Verkenner op die kamp gelewer het. Ons kon sien elke kind het die kamp terdeë geniet.

Hou Koers tot 2020!