Jakaranda sê: “Ons Kamp”

deur Jan-Albert de Kock

Na ’n jaar van geen gebiedskamp is Jakaranda Voortrekkerkamp se tema vir 2021 “Ons Kamp” eintlik ’n versugting van die hele kampraad gewees.

Almal was uitgehonger vir kamp. Dit was ’n groot uitdaging om die “regte” besluit te neem veral met die beperking wat op die terrein op daardie stadium gegeld het van slegs 250 kampeerders, 20 in die swembadarea, 50% van kapasiteit vir stort- en toiletfasiliteite asook in kursus- en slaaplokale, twee persone per tafel en geen saamsing om kampvuur. En dit sou ook die eerste PD-gebiedskamp na Covid se uitbreking wees.

Daar is besluit om te fokus op die senior kinders, en net voorsiening te maak vir volwassenes wat saamkamp se jonger kinders. Waar Jakaranda in die verlede twee tot vier verskillende kursusse per graadgroep aangebied het, is daar ook besluit om die verskeidenheid te beperk. Kampraad wie se kursusse nie hierdie jaar aangebied was nie, het steeds kom kamp en dienste is op ander plekke aangewend. Soos hulle gesê het: “Ons kamp saam ongeag.”

Wel, met so ’n positiewe gesindheid en ondersteuning van die kampraad, het kampleier, Jan-Albert de Kock, geen ander keuse gehad, as om die kampbriewe inderhaas op te stel sodat die 36ste Jakaranda Voortrekkerkamp 1 tot 5 April 2021 te Hartbeesfontein kon plaasvind nie. Skielik was die aantal saniteerpunte, termometers en temperatuur neem, hande was, maskers dra en sosiale afstand besprekingspunte. Dit moet nog steeds ’n lekker en unieke kampervaring vir die kind wees.

Een ding was seker, Jakaranda se kampformaat van die vorige jare, moes verander. Dit het sommer begin met die aanmelding op die terrein. Elke persoon moes ’n Covid-verklaringsvorm voltooi, uitdruk en saambring kamp toe waarop temperature ingevul is. Registrasie was by die onderskeie kursusse se minikampe. Hier het ons agtergekom hoe sleg mense kampbriewe lees want “hulle weet mos hoe dit werk”. Alle aktiwiteite is in die buitelug aangebied, van kampopening, aandprogramme, seremonies, gewyde diens, Jakaranda-kaskenades, kampkonsert tot kampafsluiting. Jakaranda was werklik geseënd gewees met net die perfekte weersomstandighede vir die betrokke aktiwiteit.

Van die hoogtepunte was die nuwe kombuisspan se vars nuwe spyskaart met uitdagings van ’n ander aard. Kampeerders hoef slegs hul eie waterbottel en beker op te was. Eetgerei, pap- /nageregbakkies en onderborde was voorsien en na omgesien.  Een ding is seker, die heerlike kos (en Jakaranda was nog altyd bekend vir lekker eet) en geen opwas gaan nog vir lank op die kampeerders se lippe wees.

Snoepie het na die kliënt gegaan in die vorm van Uber-Treats. Daar is elke dag snoepiebestellings geneem, verpak per kliënt en afgelewer by die onderskeie kursusse. Die noodhulpkamerspan het bestaan uit medies gekwalifiseerde persone wat die kampleier baie rustiger in die aande laat slaap het (wanneer hy geslaap het).

Die logistieke-/sekuriteitspan het die kamp saans veilig gehou en bedags steun aan die kursusse gegee. Onder leiding van die twee veldkornette is daar in klein groepies kontakvrye Jakaranda-kaskenades aangebied. Een van die rotasiepunte was verjaarsdagkoek eet ter viering van Die Voortrekkers se 90-jarige feesviering. Tussen tentinspeksie deur het die veldkornette waar hulle kon, die kampleier swaar laat leef met poetse wat gebak is. Alles ten aanskoue van die kampeerders wat sulke opkikkers baie geniet het.

Die veldmuise (gr. 1-3) het met beroepe in die Bybel en Veldkook genoeg geleentheid gehad vir lekker buite wees. Daar was twee gesoute kapokkies (voorskools) wat ywerig aan die aktiwiteite meegedoen het. Die Vasbyt-kursus het hierdie jaar goeie hardlopers gehad en die volwassenes moes uithaal om by te hou. Die moddergat bly ’n wenner en ek wil sien hoe ’n Covid-kiem dit oorleef. Die Touwerk-outjies het volwassenes gedaag om knope geblinddoek en agter die rug te maak. Hulle het telkens as wenners uit die stryd getree. Beeldende Kunste se uitstalling gee geleentheid vir ander volwassenes om te kom kyk na die skeppings en kreatiwiteit van dié kursusgangers. Die karikatuur kleibeeldjies is die gunsteling. Spoorsny se vermomming en bekruiping saam met die nagmars gaan menige kampeerder nog lank bybly. Sterrekunde het ’n spesiale sterrekyksessie gehad waarvoor hulle 4:00 moes opstaan. Dit was oor en oor die moeite werd. Verder het die vuurpyllanseerkompetisie ten aanskoue van die hele kamp plaasgevind. Medemens het ’n heerlike tipiese Bybelse ete vir die volwassenes aangebied en lekker modeparade vir ons gehou. Hulle nie-bederfbare voedsel en speelgoed wat hulle ingesamel het, is geskenk aan Kameelfontein. Die een aand uitslaap by Jakkalsdans is Erfgrond se geleentheid om hul eie ding te doen. Erfgrond se buitelug-kampafsluitingseremonie met fakkels en kerse was treffend.

Met die afslaan van die tente is ’n gespikkelde bosslang onder een van die dogterstente van spoorsny ontdek. Voortrekkervriende het laat weet: skadeloos en nuuskierig … maar dit neem nie die aanvanklike skrik weg nie.

Een ding is vas en seker, Jakaranda was geseën met geen Covid-geval aangemeld tydens en na die kamp nie. Die kampraad en volwassenes se samewerking en gesindheid het gemaak dat die 36ste kamp suksesvol afgeloop het. Die kampadjudant het seker gemaak dat daar aan regulasies voldoen word en ten spyte van alles die kampprogram op tyd laat loop. Nie eens ’n kragonderbreking tydens die kampkonsert kon die program omverwerp nie. Dit het geleentheid gebied tot sterrekyk in die donker.

Ons kan net ons hoofde buig in diepe dankbaarheid en erkenning aan ons Hemelse vader vir genade en beskerming in hierdie tyd.

Jakaranda groet tot 2022.