Jakkie van der Colff ry die land plat ten bate van Die Voortrekkers
Nie eens reën en mis kon Jakkie van der Colff, ’n inwoner van Waverley in die Pretoriase Moot, se epiese fietstoer ten bate van Die Voortrekkers Saterdag van stryk bring nie, waar hy na byna ’n maand op die pad van die Vootrekkermonument op 21 September by die Taalmonument in die Paarl aangekom het.
Van der Colff het manalleen sonder enige voertuigbegeleiding deur vyf provinsies en vyftig dorpe oor ’n afstand van sowat 2 700 km op sy fiets gery om Die Voortrekkers as jeugkultuurorganisasie wyer bekend te stel.
Sy hartsbegeerte dat Voortrekkerkommando’s in al die dorpe op die roete van sy fietstoer, gestig sal word, is ook verwesenlik waar twee nuwe Voortrekkerkommandos in Graaff-Reinett en Trompsburg gestig is.
“Ek hoop dat meer mense van Die Voortrekkers as uitsonderlike organisasie bewus geword en ook deel sal word. Wat die kinders by Die Voortrekkers leer, kan jy nêrens anders kry nie.”
Met sy aankoms by die Taalmonument, waar verskeie Voortrekkers in die Kaap hom ingewag het, het hy dié fietstoer as ’n sielsverrykkende ervaring opgesom. Sy vrou van die afgelope 54 jaar, Marie, het ook vir hom by die eindpunt gewag. Sy twee seuns, Jaco van Hartbeespoort en Marius van Glentana naby George en sy seun, Ardou (9) en nog ’n paar familievriende het die laaste ent tot bo by die Taalmonument saaam met Van der Colff gery.
“Alles was net lekker gewees. Ek is so bly dat ek kon deel wees van hierdie projek.”
Dr. Danie Langner, hoofleier van Die Voortrekkers, was aanvanklik baie skepties toe “oom Jakkie”, hom tien maande gelede kom sien het oor dié fietstoer wat hy beplan.
“Die dieper waarde van die epiese rit lê nie net in die reuse prestasie van die daad nie, maar in die inspirasie van oom Jakkie se voorbeeld. Met elke kilometer, opdraend, afdraend, gelykpad en bergpas het oom Jakkie bevestig waar ’n wil is, is n weg. Dit maak nie saak hoe jonk of oud, groot of klein jy is nie, elkeen kan deur diensbaarheid ’n positiewe verskil maak. Ons land het dit broodnodig. Daarvoor sê ons vir oom Jakkie dankie.
Dankie aan elke Voortrekker wat Oom Jakkie so gasvry en entoesiasties ontvang, ondersteun en selfs saam met hom gery het. Dit was inderdaad n onvergeetlike, monumentale rit! Dit was inderdaad n monumentale tog!” het Langner gister gesê.
Van der Colff se motivering is eenvoudig: “Elke mens ongeag wie jy is, het drie dinge. Sommige het net een, ander twee en sommiges selfs al drie: Tyd, talent en bates. In my geval het ek tyd op hande. Om my tyd nie nutteloos te laat verbygaan nie, het ek besluit om tyd te gebruik om iets te doen vir Die Voortrekkers.”
In 2013 het hy sy eerste fietstoer aangepak om soos hy sê geestelik en liggaamlik fiks te wees.
“As ’n mens niks doen nie, dan is jy later ook niks. So, ’n mens moet liggaamlik aan die gang bly.”
Na sy mening moet ’n mens se liggaam gesond wees om ’n gesonde gees te kan huisves en nie andersom soos die gesegde lui nie.
Hy kan nie in woorde omskryf wat hy ervaar as hy op sy fiets die langpad aandurf nie.
“Dis net die vryheid en die ooptes van die veld wat jy ervaar. Jy dink eintlik aan niks nie. Dit word net lekker en jy word sterk.”