Kaapland se Graad 7’s laat hulle nie onderkry nie
deur Riana Breytenbach
Kaapland se Graad 7’s het in 2020 gewys dat geen virus hulle sal onderkry nie. Hulle was bereid om die nuwe uitdagings aan te pak en suksesvol te voltooi.
Die Godsdiens Beloftespesialisasie is vir die eerste keer in Kaapland aanlyn aangebied. Groot was die teleurstelling toe net 6 jeuglede ingeskryf het, maar Chris-Marie Winterbach van Kraggakamma-kommando en Pieter Conradie van Uitenhage-kommando was die eerste jeuglede wat die aanlyn spesialisasie suksesvol voltooi het. Hulle het waardevolle insette gelewer oor maniere om die spesialisasie te verbeter en spoedig was daar 32 jeuglede wat ingeskryf het vir die Beloftespesialisasie.
Daar was sekere opdragte wat die jeuglede prakties moes doen en die bewyse daarvan moes instuur. Daar is verskriklik interessante skyfievertonings gemaak van die rol van die Hugenote in ons volk se geskiedenis, gebedsplakkate is gemaak en elke jeuglid moes soos ’n Bybelkarakter aantrek en verduidelik waarom hy/sy die Bybelkarakter gekies het.
Baie dankie aan HL Danie Langner, AHL Elizma Smit, AOL Lizan Burger, KL Willem Petzer, AKL Adri Steyn, Sonja Barry en haar kinders, asook Staatmaker Natasha van Tonder, wat gehelp het om die lesings voor te berei vir die aanlyn spesialisasie. Dit word opreg waardeer.