Kalahari Vasbyt 2019
deur Susan Huxham
Kalahari Vasbyt is ’n unieke kamp wat jaarliks aangebied word in die Noord-Kaap op die plaas van Nig Elaine Strauss. Verkenners en Graad 7-kinders en Offisiere trek saam om hierdie eiesoortige kamp te kom geniet.
Een van die uitstaande kenmerke van hierdie kamp is dat die kinders agter op bakkies funksioneer gedurende die verloop van die kamp. Elke bakkie is voorsien van ’n drywer en ’n hulpoffisier. Die bakkie word toegerus met kampkooktoerusting asook ’n krat waarin die kos vir die loop van die kamp geberg word. Die kinders is verantwoordelik vir die maak van hul eie kos met die hulp van die volwassenes. Almal slaap in tente wat opgeslaan word op die hoofkampterrein.
Elke jaar word ’n ander Spesialisasie aangebied. Hierdie jaar is die Waardes spesialisasie aangebied. Vooraf kry die kinders ’n lesing wat hulle inlig oor die kenteken en oor die gebruik van kaartwerk met behulp van Satelietkompasnavigasie. Elke span, wat bestaan uit ongeveer 8 kinders, word voorsien van ’n kaart van die plaas waarop plus minus dertig koördinate aangedui is. Die kinders kry die koördinate en moet dan die drywer navigeer na die punte met behulp van hul selfone. Elke span kry data wat gebruik kan word vir die doeleinde.
By die punt is ’n houers so groot soos ’n tennisbal waarin daar ’n vraag is oor die betrokke kenteken asook plakkers. Die vraag moet dan skriftelik beantwoord word voordat hulle na die volgende punt gaan soek. By elke punt kry elke span ’n plakker wat kleur gekodeer is en dit word langs die vraag aangebring op ’n antwoordblad. Na die verloop van die kamp word dit ingeneem en nagesien om sodoende die wenspan te bepaal. Na verloop van die kamp is die kenteken in geheel afgehandel.
Hierdie jaar het die Graad 7-spanne baie goed gevaar en het ’n eerste en derde plek behaal. Dit is ’n baie goeie bemarking vir Graad 7’s aangesien hulle ’n voorsmakie kry van Verkennerwees.
Kalahari Vasbyt is ’n moet vir elke Verkenner. Vir meer inligting skakel Nig Susan Huxham by 0827731911 of e-pos na huxhams@lantic.net