Kameraadskap
Op Paassondag staan ons vroegoggend met ’n beker warm koffie in die hand en wag op die graad 11-Selfbehoud Voortrekkers. Op Lunsklip is dit tradisie dat almal in die kamp ’n erewag vorm wanneer die Selfbehouders na drie dae se oorleef in die veld die kamp binnestap.
Om te oorleef in die veld is nie so maklik nie. Sedert Woensdag is die Percy Fyve-natuurreservaat met donderstorms en baie millilliters reën behoorlik natgegooi. Reën beteken die Selfbehouders moes waterdigte skuilings bou sodat hulle droog kon slaap. Die Selfbehouders moes ook al hulle vernuf en veldkennis inspan om veldkosse te soek en boonop met kaart en kompas rigting vind in ’n ongerepte stuk aarde. Terloops, die gerugte is dat hulle baie droeër geslaap het as die meeste Voortrekkers in die kamp. Hulle het ook goed rigting gehou, maar ek is nie heeltemal seker hoe suksesvol die kos soek was nie. Willie Louw het na die tyd gesê: “Oom, my belt is op sy laaste gaatjie steeds te groot. Ek moes later ’n tou as belt gebruik.”
Spanwerk, aanmoediging van spanmaats, ’n positiewe ingesteldheid en deursettingsvermoë is alles voorwaardes vir ’n suksesvolle selfbehoud-avontuur. Die kern hiervan is kameraadskap.
’n Kameraad word in die woordeboek beskryf as ’n goeie vriend, makker, maat, reisgenoot. Augustinus, die klassieke Christen-filosoof, skryf kameraadskap is ’n geskenk van God en verteenwoordig die daadwerklike genade van God op aarde. Tanya van Wyk beskryf kameraadskap as wanneer “ek iemand anders se belange my eie maak. Wanneer iemand anders se belange vir my net so belangrik, eintlik belangriker, word as my eie belange. Wanneer ek dít wat vir jou belangrik is in lyn bring met wat vir my belangrik is – sonder dat dit noodwendig vir my voordele inhou.” ’n Kameraad is daardie onselfsugtige vriend wat jou dra en ondersteun wanneer jy dit die nodigste het. ’n Kameraad weet wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het: “Dra mekaar se laste.”
Terug by Sondagoggend. Die hele kamp staan gereed in ’n erewag. Mooi musiek speel terwyl die Selfbehouders die kamp binnestap. Almal klap hande. Die Selfbehouders lyk moeg en honger, maar baie trots. Dan, heel laaste, amper as ’n nagedagte, kom drie manne aangestap. Die Selfbehouder in die middel se voet is stewig toegedraai. Hy het geval en ’n beentjie in sy voet gebreek. Dit is ooglopend pynlik. Twee vriende met swaar rugsakke ondersteun hom terwyl hulle die erewag afstap. Op daardie oomblik het ek besef Adriaan Brits, Wandré van Zyl en Hendri-Joseph Pelser se daad van omgee, is ’n simbool van die kameraadskap wat ons in Die Voortrekkers koester.
Voortrekkers bied vir alle ouderdomme unieke avonture in die natuur. Van topklas kentekens soos 4×4, vuurwapens, natuurbewaring, veldkook, voetslaner, sterrekunde en vele meer. Avonture laat kinders Voortrekkers word. Kameraadskap laat hulle Voortrekkers bly. Dit is ervarings van kameraadskap saam met jou span in die veld, om ’n kampvuur, onder die sterre, wat maak dat kinders en volwassenes keer op keer terugkeer na kampe. Avonture bied ’n eersteklas ervaring, maar kameraadskap is wat Voortrekkers vir altyd onthou. Sonder kameraadskap kan ons dit wat vir ons kosbaar is – ons kinders, ons taal, ons kultuur, ons tradisies en geskiedenis – moeilik deur onstuimige tye dra. Met kamerade aan jou sy KAN ’n Voortrekker enige berge oorwin en uitdagings oorkom. Dit is wat die Selfbehouders prakties vir ons gewys het.
Deur: Danie Langner