Kamp Klitsgras … klou om te hou!

In die hartjie van die Vrystaat is daar ’n kloof waar Voortrekkers graag bymekaarkom. Die kloof is op die plaas Doornkloof en nie net is dit ’n plek met vyf aparte kampterreine nie, maar so ook is dit ’n wildplaas! En so in die veld, ver weg van die stad se lawaai, kan ’n kind nog kind wees en speel-speel leer van ons wonderlike natuur.

Kamp Klitsgras is ’n moet vir elke graad 5-Voortrekker gedurende die September-skoolvakansie. Die penkoppe en drawwertjies leer van die weer en varswaterdiere en met dié kennis verwerf hulle die Weerkennis- en Varswaterdiere-spesialisasies. Dit is net soveel lekkerder om in die veld te leer as in ’n klaskamer. Hulle soek insekte by ’n dam – die groot fonds is as hulle ’n naaldekokerlarwe ontdek! Hoe ongelooflik is hy nie geskape nie? En het jy geweet dat jy jou hare kan gebruik om te kyk hoe vogtig die lug is? Of ’n ballon om te kyk hoe die lugdruk verander? Op dié manier bou die kinders hul eie barometer en hygrometer.

Bybelstudie in die oggende maak ’n tydjie oop om te wonder oor die natuur en waar ons begin het. Daar in God se skepping is dit net soveel makliker om nader aan God te beweeg. Op die kamp beleef mens baie spesiale oomblikke soos met die vlagverbrandingseremonie. Met groot aanskoue word ’n ou Voortrekkervlag verbrand, nadat die simboliek aan almal verduidelik is. Spontaan word almal stil en elkeen beleef die groot oomblik en dink oor wat dit beteken.

Sondagaand kom vra die kinders grootoog oor die Bybelnagmars, want wie loop nou in die donker rond opsoek na Bybelraaisels? Maar keer op keer geniet hulle dit en leer dat selfs die donker jou vriend is. Aan die einde van die kamp hou ons konsert. Die kinders moet ’n Afrikaanse liedjie gebruik en daarmee ’n item lewer. Hoe oorspronklik is hulle nie elke jaar nie!

Die kinders leer-en-leer nie net nie, daar is ook lekker handwerk, speletjies speel tot hul tonge op die grond sleep, boeresport, lanternbekruip en seremonies. Met die speletjies en boeresport kan die kinders lekker laf wees. Geen TV vir vermaak nie, die kinders moet buite speel!

Veld, natuur, pret en plesier! Daar is nie ’n beter manier vir ’n graad 5-Voortrekkerkind om sy Septembervakansie te spandeer nie! Op Klitsgras klou ons nie net om te hou nie, maar laat los ons ook en speel in die veld en bos. Vir meer inligting, kontak gerus die kampleier Rensche van Wyk by 082 780 3679.

Deur: Rensche van Wyk