Kamp Nakuphi
Kamp Nakuphi is die klein kamp met die groot hart wat jaarliks aangebied word by die Da Gama-dam tussen Hazyview en Witrivier in Mpumalanga. Nakuphi bied ’n onvergelykbare waterwerkondervinding en bykans 60 Verkenners het hierdie jaar se kamp bygewoon.
Kamp Nakuphi bied verskillende kursusse aan waaruit Verkenners kan kies. Die graad 8’s ontdek die wonder van Da Gama se natuurskoon deur die Varswaterkunde-kursus. Hier word verskillende varswaterdiertjies van nader bestudeer, die dam se waterkwaliteit is gemeet (ja, ons dam se water is drinkbaar!) en die area se ekologiese waarde is deur die miniSAAS observasiemetode bevestig.
Die Roeikunde-kursus begin hulle week met die bou van ’n vlot waarmee hulle uitroei en ’n nag onder die sterre spandeer. Verkenners het ook die geleentheid om kennis te maak met ’n verskeidenheid roeibote – selfs ’n Kanadese kanoe is bemeester! Toe die reënweer die kamp seën, het die roeiers ’n uitstappie na die 70 m hoë Lone Creek-waterval gehad as deel van die Riviere-spesialisasie.
Die hoogtepunt vir elke Nakuphi-Verkenner is die Seilkuns-kursus wat vir Graad 10’s aangebied word. Verkenners wat op Nakuphi leer seil, kan rêrig seil en onderneem ’n solo-vaart om ’n bepaalde roete te voltooi as bewys van die nuwe vaardigheid wat bemeester is. Sodra die solo-vaart met ’n dubbelrompseiljag voltooi is, ontvang die Verkenner ’n silwer seilknopie wat met trots gedra word. Daarna word die tweede uitdaging gestel: voltooi nou dieselfde solo-roete, maar met ’n enkelrompseiljag! Hiervoor word ’n goue seilknopie ontvang.
Die Seilkuns-kursus se week word afgesluit met die Nakuphi-regatta: ’n Seilbootresies waar die Verkenners teen die Offisiere meeding.
Die water van Da Gama-dam bied genoegsame sigbaarheid vir Senior Verkenners om te skuba- en snorkelduik. Hier ontvang alle Verkenners die NAUI geakkrediteerde Diving Passport wat die intreepunt van hierdie opwindende stokperdjie staaf.
Vir Verkenners wat verkies om nie heeltemal nat te word nie, is die Identifiseringskursus aangebied. Die kursus bestaan uit die Padda- en Voëlidentifisering spesialisasies wat in tandem aangebied word. Vyftig voëlspesies en 5 paddaspesies is tydens die kamp uitgeken en aangeteken. Alhoewel die omgewing rondom die Da Gama-dam ’n paradys vir voëllewe is, sal almal saamstem dat die uitstappie na die Kruger Nasionale Park die hoogtepunt van die week was. Hier het die Verkenners jagluiperde, wildehonde, buffels, ’n luiperd saam met haar kleintjies, ’n leeu en nog vele ander diere gesien!
Nakuphi het vir die eerste keer ook Noodhulp aangebied vir Graad 11 en 12 Verkenners. Hier is daar intensief gewerk en Verkenners het ’n erkende Vlak 1 en Vlak 2 Noodhulpsertifikaat ontvang.
Kamp Nakuphi is baie trots op die hoë gehalte van ons kursusse en gee erkenning aan die verskillende kenners wat die kennis en vaardighede oordra aan ons Verkenners.
Volgende jaar is Kamp Nakuphi se 20ste bestaansjaar en daar word beplan om ’n groot partytjie te hou. Indien jy al op Nakuphi gekamp het (of net lus is om dit vir die eerste keer by te woon), maak seker om 21–28 September 2019 nou reeds in jou jaarbeplanning in te reken!
deur Jaco van der Walt