Ken jy Ta’ Mossie se sakkieboeredans?

deur Danette Smith

Daar is afwagting in die lug soos wat jeuglede vir die Afrikaner Volksdans spesialisasie registreer.  Vir die graad 6 en graad 7’s is dit ’n vraag van “Wat gebeur op hierdie kamp?” en vir die Verkenners is die vraag “Watter nuwe wals, setees en polka leer ons hiérdié keer?”

Op 1 Maart, net so na 18:00 skop die kamp af met ’n Bokjol en toe die litte behoorlik los is, hoor jy hoe “Ken jy Ta’ Mossie se sakkieboeredans” se bekende wysie deur die lug trek… Ons wals – die eerste van ’n paar danse op die program vir die naweek.

Saterdag, na ’n stewige ontbyt is daar gewerk aan die kadriel en die setees en terwyl die Penkoppe en Drawwertjies die teoretiese gedeelte afhandel, werk die Verkenners aan die Vaalwitpens mazurka.

Tobie en Marinda Malan het net na ete vir die jeuglede en volwassenes volkspele aangebied.

‘n Vinnige asemskep en afkoel, toe is dit verder sodat ons al die vereistes kon inpas. 

 

Later die aand eet ons koek en vier die Wapadrand Boeredansgroep se 20ste bestaansjaar. Lees gerus meer daaroor in die E-Hou Koers wat later die maand gedeel word.

Ons optrede vir ons ouers wat Sondag kom kyk, is ingeoefen sodat elkeen presies weet waar om te staan en met wie hy/sy moet dans.

Opvallend van die groep, is dat daar nooit gekla is nie. Al was Saterdag namiddag ook maar lekker warm, het hulle die polka aangevat en sommer vinnig onder die knie gekry en ook verseker het dat hulle die vroegste nóg op ‘n danskamp, gaan slaap het.

As ons so na die ouers en grootouers se glimlagte (en hier en daar ‘n traan) kyk tydens die vertoning, bevestig dit net weer die sê-ding wat ons in die dansgroep het “as jy jou met die regte dinge ophou, sal die regte dinge gebeur”. 

Wat ‘n voorreg om elke jaar hierdie spesialisasie te mag aanbied met ‘n kampraad wat die passie deel en ‘n dansgroep wat my op die hande dra. 

Vir elkeen wat die spesialisasie ontvang het wil ek gelukwens deur te sê “Jy het eerstens ingeskryf en die kamp kom bywoon en tweedens end-uit aangehou en uitgehou.  Ek is trots op jou.  Dra jou kenteken met trots op jou erkenninsbaadjie – jy het dit verdien!”.