Kinderlaggies langs die kus
Hoe meet ’n mens die sukses van ’n gebiedskamp? Kyk jy na die grootte van die kamp, die groeisyfers, die ouers se kommentaar na die tyd? ’n Mens kan seker, maar dan kyk jy die belangrikste element mis: die fokus op die harte van pragkinders.
Swartvlei was ’n warrelwindweek, ’n gekonsentreerde dosis van ervarings wat geen Voortrekkerhart nie geraak het nie. Deur die toewyding en liefde van ’n span offisiere en medewerkers is lewensvormende werk gedoen, as ’n mens dit werk kan noem, want die volwassenes leer net soveel. Maande en maande se voorbereiding het gemaak dat ’n kleurvolle massa van kinders in groot pret kon deel en dat hulle speel-speel waardevolle sielskos kon kry. Kursusse en spesialisasiewerk leer die jongklomp dinge wat hulle nêrens anders kan leer nie. Nuwe vriendskappe is gebou, ou vriendskapsbande is versterk en lewenslange herinnerings is vasgelê.
Die belangrikste is dat die kamp plek het vir elkeen, die raasbekkies, die stil kinders, dié met selfvertroue, maar ook die onsekeres en die alleenkinders.
Mag ons nooit vergeet wie ons belangrikste lede is nie. Ons bou aan die kortvolk met die blink oë se karakters. “Swartvlei, ek het jou lief, met my hele hart!” Sien ons JOU op Swartvlei 2017?
Deur: Andries Visagie