Koersvas bied boeresport aan
deur Annamé Wolmarans
Koersvas het saam met Kuifie en Faf by die plaaslike laerskool diens gedoen deur boeresport vir ’n ieder en elk aan te bied tydens ’n gesinsuitstappie en piekniek.
Dit het behoorlik gesous die week voor die Boeresportdag en almal was bekommerd dat die lekker kuier, wat so broodnodig was na die inperkinge, gekanselleer sou moes word. Gelukkig het die son die Saterdag te heerlik geskyn, en was die diens wat ons gelewer het, geniet deur oud en jonk.
Ander nuus van Koersvas:
Besoek aan die Voortrekkermonument
Die graad 6- en 7-span het weggespring met ’n besoek aan die Voortrekkermonument vir hulle Afrikanertradisies-kenteken. Die graad 9-span het ook sommer terselfdertyd die monument besoek vir hulle wegspring van die Nasionale Gedenkwaardighede-kenteken sowel as hulle Afrikanerskap-projek.
’n Heerlike selfoonskattejag is gehou. Foto’s, video’s, stemnotas en Google is gebruik om die skattejag sommer baie pret te maak.
Na die monument en gronde behoorlik op- en afgehardloop is, het al die gesinne van die kinders gaan piekniek hou onder die pragtige boom by Fort Schanskop. Derdemannetjie is gespeel en almal het dit vreeslik baie geniet.
Graad 11’s maak bonsais
Die Tierboskatte-span – ons graad 11’s – het hierdie jaar begin om haak-en-steek doringboompies te plant en te vorm in bonsais. Hulle is besig met die kenteken, en almal sien vreeslik uit na die eindprodukte.
Koersvas doppie-vir-rolstoel-projek
Een van ons Kommando se diensprojekte vir die jaar is om broodsak-knippies en koeldrankbottelproppies in te samel om in te dien in ruil vir ’n rolstoel.
Die kommando se kinders en ouers is almal by die projek betrek om so wyd as moontlik te adverteer sodat almal kan help insamel en dan na offisiere kan stuur in sakkies wat bymekaar gemaak is.
Ons besef hierdie is nie ’n projek wat vinnig afgehandel kan word nie, maar ons kan nie wag vir die oomblik wat ons die rolstoel kan oorhandig aan iemand wat dit benodig nie. Ons wil graag die rolstoel vir iemand in ons omgewing skenk.
Geloftefees
Koersvas-Voortrekkers doen al vir donkiejare lank diens by Bokfontein se Geloftefees. 2020, met Covid en al, was geen uitsondering nie.
Koersvas se bywoning was die beste in ’n lang tyd, en die vlagseremonie met al ons kultuurvlae wat ons aangebied het, was voorwaar ’n belewenis.
Dr. Jackie Grobler het almal toegespreek nadat David Scribante met skriflesing en gebed geopen was. Tydens die teebreuk het almal aan koek en lekkernye gesmul terwyl Koersvas oud en jonk vermaak het met lekker Boeresport-speletjies.
Koersvas boekeprojek
Koersvas se Springbok-span het vir hul gemeenskapsprojek die hoof van Laerskool De Kroon in Brits genader om te hoor hoe en waar hulle hulp benodig.
Die hoof, mnr. Dirk Kleynhans, het die behoefte aan leesboeke uitgewys. De Kroon probeer om onder erge finansiële druk nog steeds die kinders in Afrikaans te leer.
Kratte en advertensies is by sekere skole en die dorp se Pick ‘n Pay geplaas dat die gemeenskap boeke daarin kon plaas. Ten spyte van Covid kon ons darem heelwat boeke vir De Kroon insamel.
Die dag toe die bakkievrag boeke afgelewer was, het die span eers besef hoe erg die nood vir boeke regtig was – die skool het werklikwaar geen boeke beskikbaar gehad om die kinders te laat lees nie. Die Springbokke is bly hul kon so ’n verskil maak.