Kommando skenk voetgekontroleerde handreinigerstaander aan hoërskool

deur Sanet Vosloo

Corné Vosloo van Oos-Londen-kommando is herverkies as Gebiedsjeugleier, Oos-Kaap-streek. Gedurende sy termyn moet hy n gemeenskapsprojek van sy keuse loods en suksesvol afhandel. Met die Covid-19-pandemie wat die wêreld tot stilstand geruk het, het Corné se idee van sy gemeenskapsprojek vinnig en drasties verander.

Die pandemie het dadelik soveel fokus geplaas op sosiale distansiëring, masker dra, nie aan jou gesig vat nie, gereeld hande was en handreiniger gebruik. Met nuwe wetgewing oor protokol by publieke plekke, insluitend skole, aangaande die coronavirus se voorkomingsmaatreëls, het Corné sy projek daaromtrent geloods. Hy het namens Die Voortrekkers ’n voetgekontroleerde handreinigerstaander aan Hoërskool Grens geskenk. Hierdie staander word by die skoolgebou se hoofingang gebruik.

Met deursettingsvermoë en gehoorsaamheid aan al die nuwe reëls en regulasies van Covid-19 kan ons veilig en gesond bly.