Kompetisiekamp te Doornkloof

deur Willie Engelbrecht

Tydens die afgelope Maartvakansie het graad 9-Voortrekkers van reg oor die Vrystaat en selfs uit die verre Transvaal saam gekamp.

Tydens die kamp word verskeie kompetisies aangebied en kompeteer spanne teen mekaar om die beste geriewe (tafel, stoof, koelkas en dreineringsput) te bou en ook om die beste kokke vir die jaar te wees. Die boumateriaal is onder andere modder, tou, stene en houtpale. Verkenners maak vir vier dae alle etes en die offisiere eet elke ete by ’n ander span. Dit is verseker nie so maklik om op ’n oop vuur bruinpoeding en bobotie te maak nie. Daar is darem makliker etes soos pannekoek en slap pap ook.

Spesialisasies op die kamp is Ekologie en Kamplewe. As deel van die Kamplewe-spesialisasie, dryf spanne ook handel met ’n eie geldstelsel en word daar elke dag kosaankope gedoen. Hout word gekoop en verkoop en baie kreatief word ander transaksies ook gedoen. Die republiek van Overspruit se geldstelsel maak voorsiening vir rente en ook belastingheffings. Ons het ook met behulp van PSG Bloemfontein bietjie gewerk aan beleggings met werklike rand en sent en ook aan die einde van die kamp gesien hoe die beleggings gegroei of gedaal het.

Ons hou ’n Middeleeuse oorlog waar Verkenners oorlogstuig bou en ’n boontjiesak deur die lug moet kan slinger. Die Verkenners is hier baie kreatief en moet in ’n kort tydjie met houtpale en tou hul oorlogstuig bou. Die offisiere is die teikens en soms word een of twee raakgegooi.

Ons werk ook baie aan ons geestelike weerbaarheid en die jaar se tema was “God as ons Rigtingwyser”. Op dié wyse rus ons ook die graad 9’s toe om vas te staan in ons veranderde wêreld.