Kompetisiekamp vir Graad 9

Kompetisiekamp is ’n onvergeetlike kamp. Dit is ’n kamp waar jy hard werk, waar jy jou kos gaarmaak en dit wat nie gaar is nie, bid jy gaar.

Die kamp begin Saterdag waar elke span al sy toerusting kry en dan begin die groot bou.  Elke span bou ’n tafel, yskas, stoof en dreineringsput. Sondagoggend spook almal om hul vuur aan die gang te kry vir die eerste ete.

Deur die loop van die kamp maak die verkenners al drie etes en offisiere word genooi om op ’n rotasiebasis deur die loop van die kamp by elke span te eet. As die verkenners nie besig is om kos te maak, skottelgoed te was of vuurmaakhout bymekaar te maak nie, woon hul periodes by. Periodes soos seremonies, spele, ekologie, kamplewe, Christenskap in die natuur en omgewingskreatiwiteit word aangebied. Die geestesweerbaarheid en finansiële bestuur-periodes hanteer die PV-rubriekwerk, wat die las op die offisiere van die kommando’s verlig.

Teen die einde van die kamp weet elke verkenner hoe om vuur te maak, hoe om potte te was en hou om liplekker kos te maak.

Kompetisiekamp leer jou nie net hoe om te kook nie, maar ook om jou ouers, huishulp en elektrisiteit te waardeer.

Moet nie die kamp misloop nie.

deur Jaco Erwee (’n Offisier)

 

Eerstens is dit ’n baie lekker kamp wat ek so baie geniet het, en dan doen jy nog redelik van jou Verkennerboek se werk saam met al die pret!

Saam met kook, spanwerk, bou en touwerk was daar nog vele te doen. Interessantste was die bou van elke span se tafel vir 11 tot 15 mense met stoele. Elke span moes sy eie yskas met gomlatte en goiingsakke bou en gereeld nat hou met water. Ek kon dit nie glo nie, maar ons jellie het gestol!

’n Oond om kos te maak, is gebou deur modder en bakstene, en die heerlikste disse  soos plaatkoekies, bruinpoeding, roerbraai, macaroni en kaas met witsous, krummelpap en nog vele meer is gemaak. Offisiere is op unieke maniere uitgenooi om te kom eet by verskillende spanne.

Selfs ons potte en panne is blink geskrop met Wim en staalwol, totdat jy jouself daarin kon sien.

Ek daag alle graad 9’s uit om nie hierdie kamp mis te loop nie.

deur Stefan Hugo (’n Verkenner)