KONGRESPRIORITEITE
1. Belê in die Voortrekkerloopbaan
Ons belangrikste kultuurbate
Die Voortrekkerloopbaan het ontwikkel van die Voortrekkerkamp in 1923 tot vandag. ’n Bietjie minder as ’n eeu se oorgeërfde wysheid, kennis, vaardighede en praktiese ervaring is as kulturele kapitaal in die Voortrekkerloopbaan opgesluit. Dit is ons belangrikste kultuurbate, omdat dit die wyse is waarop Die Voortrekkers ons jeug se karakter vorm en hul leierskapspotensiaal en vaardighede ontwikkel.
Ons het die kulturele kapitaal as ’n kulturele bate ontvang en het die verantwoordelikheid om die beleggingswaarde daarvan as kulturele batebouers vir ons jeug te ontsluit, te bestuur en verder uit te bou.
Die Voortrekkerloopbaan mag nooit stagneer nie, omdat Die Voortrekkers dan die vermoë sal verloor om byderwets met ons jeuglede te kommunikeer, relevant vir hulle te wees en hul toekoms te help vorm.
Die Voortrekkerloopbaan en skoolkurrikulum
Die Voortrekkers neem deeglik kennis van die skoolkurrikulum, maar die Voortrekkerloopbaan is nie ’n herhaling van die skoolkurrikulum nie.
Daar is sekere aspekte in die skoolkurrikulum, veral in Lewensoriëntering en geskiedenis, waarop Die Voortrekkers vir ons jeuglede ’n Bybelse antwoord of kultuurperspektief wil bied.
Met die druk op staatskole om godsdienstig-neutraal te wees, plaas dit nog ’n groter verantwoordelikheid op ons.
Belyning van Voortrekkerloopbaan
’n Goed geformuleerde en belynde Voortrekkerloopbaanplan is noodsaaklik omdat die loopbaan boublokke is wat bymekaar aansluit.
Voortgesette ontwikkeling van hulpmiddels
Die afgelope termyn is die loopbaan ondersteun deur die HOE OM-boek, ontwikkeling van nuwe en kreatiewe hulpmiddels wat ook aanlyn op Voriemôl bestel kan word. Die platform en hulpmiddels moet verder uitgebou en ontwikkel word.
Eietydse kommunikasie
Ons kinders se kommunikasiewêreld is tegnologie. Hulle lees meer foon as boeke. Hulle gesels meer per WhatsApp as pouses met mekaar. Vroeër het spanne foto-albums gehad. Vandag is spanne se foto-albums op Facebook. Die ou Voortrekkers het geskryf op leie, ons kinders tik op tablette. Die ou Voortrekkers het gekommunikeer deur kort en lang fluitseine, ons kinders kommunikeer in WhatsApp-taal. Die ou Voortrekkers het die Bybel in die wakis gehad. Ons Voortrekkers het die Bybel op ’n slimfoon. Om relevant te wees vir ons jeug, sal Die Voortrekkers moet kennis neem van die wyse waarop ons jeug deesdae kommunikeer en dit integreer in die kommunikasie van ons Voortrekkerloopbaan. Dit sluit in die ontwikkeling van Voortrekkertoepassings (apps) ter ondersteuning van die Voortrekkerloopbaan.
Uitbou van KAN-kampe
Kampe bied aan Die Voortrekkers ’n kompeterende markvoordeel. Die Voortrekkers is leiers op die gebied van kampe. Geen ander organisasie bied soveel veld-, see-, water- en woestynkampe aan nie. Kampe is die plek waar Die Voortrekkers sonder enige belemmering die grondslag, wese en Voortrekkerkode kan bevestig en vaardighede kan ontwikkel en oefen. Deur wedersydse skakeling kan kampleiers en besture blootstelling kry aan die unieke winspunte en risiko-areas van elke kamp. Op dié wyse word vars en kreatiewe idees binne verskillende kampe ingeploeg sonder om die unieke identiteit van ’n kamp op risiko te plaas.
Toerusting van Voortrekkeroffisiere
Dit is noodsaaklik dat elke Voortrekkeroffisier gereeld toerustingsgeleenthede bywoon en dat gebiede voldoende geleentheid vir toerusting skep. Sonder goed toegeruste offisiere is die sinvolle aanbieding van Voortrekkerwerk onmoontlik. Die aanlynleer-platform bied vir Voortrekkeroffisiere makliker toegang tot Voortrekkeropleiding sodat hulle beter toegerus kan word om die Voortrekkerloopbaan vir kinders te ontsluit. Dit spaar tyd en kostes vir Voortrekkeroffisiere. Die potensiaal is oneindig en moet verder uitgebou word.
2. Tuiste vir gesinne
Die som is maklik
ME Rothmann (MER) was tydens die Carnegie-ondersoek in die dertigerjare verantwoordelik vir die hoofstukke wat gehandel het oor die rol van die huisgesin, moeder en dogter. Sy beskryf die boustene van ’n beskawing as volg:
- Die gesin is die fondament van ’n beskawing. In die gesin ontwikkel ’n kind die mees basiese morele waardestelsel soos respek, liefde, integriteit, aanpasbaarheid en die neem van verantwoordelikheid vir mekaar.
- Wanneer gesinne in verhouding tree met ander gesinne ontwikkel ’n gemeenskap. ’n Gesonde gemeenskapslewe word gekenmerk deur betrokkenheid by die kerk, skool en kultuur. Deur gemeenskapsbetrokkenheid ontwikkel ’n kind ’n begrip vir die verhouding van sy “klein samelewing” tot dié van ander samelewings. Die invloed van die onderwyser, predikant en kultuurleier op die kind word versterk of verswak deur die betrokkenheid van die gesin by die gemeenskapslewe.
- Wanneer gemeenskappe met gemeenskappe in verhouding tree as gevolg van die deel van gemeenskaplike goedere, soos taal en tradisie, ontstaan ’n volk.
- Waar volke met volke in verhouding tree, ontwikkel ’n beskawing.
- Wanneer ’n beskawing verval, moet die rede en die oplossing gesoek word by die kernbousteen, naamlik die gesin.
MER se raak beskrywing vorm steeds die kern van Die Voortrekkers se samelewingsbegrip. As kultuurorganisasie bied Die Voortrekkers vir die gesin en die gemeenskap ’n kulturele ankerplek.
Die som is maklik: Betrokke gesinne by Die Voortrekkers + Voortrekkers wat betrokke is by die gemeenskap = ’n lewenskragtige organisasie.
Of nog beter opgesom: Gesinsbetrokkenheid + gemeenskapsfokus = groei
Die Voortrekkersaak is ’n gesinsaak
Die Voortrekkers is ’n familiehuis met baie kamers. Daar is plek vir almal. Pa en ma. Oupa en ouma. Boetie en sussie. Oom en tannie. En baie vriende wat kom kuier.
Die Voortrekkers skep ruimte vir ’n veelvoud van gesinne, maar ons kernfokus bly egter altyd ons kinders.
Ons samelewing beleef vandag ’n omvangryke gesinskrisis.
Makro grondskuiwe ten opsigte van huweliks-, gesins- en individuele waardes vind regoor die samelewing plaas.
Sekulêre samelewingswaardes en tydseise plaas enorme druk op huwelike en gesinne.
Simptome van die samelewingsdruk is ’n hoë egskeidingsyfer, gesinne waar die ouers saamwoon, maar nie getroud is nie, saamgestelde gesinne, enkelouergesinne, gesinne waar ouers van dieselfde geslag is, gemengde huwelike.
Die hedendaagse klem op hiperindividualisme is ook besig om bande tussen gesin en gemeenskap te verslap.
Daar is in ons besige samelewing groot druk op gesinne wat lei tot afwesige ouers.
Kultuurorganisasies speel ’n noodsaaklike rol in die gemeenskap se herskeppingsproses, juis omdat ’n lewenskragtige kultuurlewe nie net ’n stabiliserende faktor is nie, maar kultuurorganisasies ook ’n vangnet bied vir gesinne in nood.
Soos nog nooit vantevore nie is daar ’n behoefte aan gebalanseerde ruimtes waar ouers saam met hul kinders kan deelneem aan aktiwiteite.
Die Voortrekkers is by uitstek ’n plek om aan gesinne ’n gebalanseerde behoortruimte te bied.
Die Voortrekkers beskou gesinsbetrokkenheid as noodsaaklik om ’n positiewe antwoord te bied op die gesinskrisis van ons tyd.
Kampe en Voortrekkerkommando’s wat groei, is ingestel om ruimte te skep vir gesinne om betrokke te wees.
In 1961 het die Hoofbestuur ’n tienpunt-gesinsbeleid aanvaar as grondslag vir Die Voortrekkers se gesinsfokus. Effens aangepas is die beleid as volg:
- Die Voortrekkers glo dat godsdiens en ’n lewe gegrondves op die Woord van God die fondament van die huisgesin is.
- Die Voortrekkers glo dat die huisgesin een van die vernaamste ankers in die behoud van ons kultuur, taal en tradisies is.
- Die Voortrekkers glo dat die gesinslewe die vernaamste terrein is waar die beginsels van diens en diensbaarheid uitgeleef kan word.
- Die Voortrekkers glo dat die huisgesin die ideale Voortrekkerspan is waar die ideale en doelstellings van die beweging elke dag nagestreef kan word.
- Die Voortrekkers glo dat die belangrikste en blywendste stene in die gebou van ’n mooi en kerngesonde karakter in die huisgesin gelê word.
- Die Voortrekkers glo dat liefde en onderlinge vertroue die bindende krag van die huisgesin is.
- Die Voortrekkers glo dat die huisgesin die vernaamste terrein is om aan mense te leer dat hulle nie alleen regte en voorregte het nie, maar veral ook pligte en verantwoordelikhede wat hulle moet nakom teenoor mekaar, teenoor hul volk en teenoor hul Skepper.
- Die Voortrekkers glo dat ouers die stewige ankers vir hul kinders in die huisgesin is en dat hulle daarvoor geëer, gerespekteer en liefgehê moet word.
- Die Voortrekkers glo dat die huisgesin die kern van ’n gelukkige en betrokke gemeenskap is.
- Die Voortrekkers glo dat die huisgesin moet saam werk, saam speel, saam staan, saam lag, saam treur, saam streef, saam glo, saam dien en saam aanbid en dan ook saam moet Koers Hou!
Maak Voortrekkerwerk dus ’n gesinsaak!
3. Gemeenskapsbetrokkenheid
My motto is: Dien die gemeenskap en die mens deur ’n Christelike lewenswyse en voorbeeld.
Annatjie du Plessis
Kultuurorganisasies is onlosmaaklik deel van ’n groter gemeenskap.
Kultuurorganisasies mag nie in hul eie klein kultuurhoekie privatiseer nie, maar moet die vermoë ontwikkel om wyer as die eie te kyk. Florerende kultuurorganisasies bou ’n verhoudingsbrug na die gesin, kerk, skool en ander organisasies.
Kulturele volwassenheid as lewenshouding beteken om saam met ander medeverantwoordelikheid te neem vir gemeenskaplike sake. Gemeenskappe is op hulself aangewys om suksesvol te wees.
Die stryd om behoud van godsdiens, Afrikaanse taal en kultuur in instellings soos skole is so ’n gemeenskaplike saak waar Die Voortrekkers in belang van ons kinders graag saam met ander werk. Hierdie opvoedkundige instellings is immers die lewensaar en voedingsbron van die Afrikaanse kulturele wêreld.
Waar ’n kultuurorganisasie ’n gemeenskapsvisie ontwikkel, is daar groei, betrokkenheid, sigbaarheid, energie en dinamika.
Die Dameskring het ses voorwaardes van volhoubare plaaslike strukture geïdentifiseer:
- Daar moet sterk leierskap binne die groep wees.
- Die organisasie moet ’n sterk gemeenskapsfokus hê.
- ’n Kultuurorganisasie moet wye ondersteuning geniet.
- Die ekonomiese krag van die groep moet gesond wees.
- Die organisasie moet suksesvolle netwerke kan vestig.
- Daar moet ’n inherente wil van die groep wees om te bly voortbestaan.
Ontwikkeling van Voortrekkers as gemeenskapsleiers
Daar is ’n toenemende behoefte aan leiers wat hul hand opsteek om te dien. Ons land is dors vir diensbare leiers wat ’n saakmakende rol kan speel om hul gemeenskappe met positiewe waardes te beïnvloed. Sonder die dienswerk van vele gemeenskapsleiers sou ’n organisasie soos Die Voortrekkers nie moontlik gewees het nie.
Deur betrokkenheid by gemeenskapstrukture soos skole, kultuurorganisasies en kerke word leiers geïdentifiseer.
Anders as politieke leiers is gemeenskapsleiers nie beperk tot enkele figure nie. Gemeenskapsleiers sluit skoolhoofde, onderwysers, predikante, verenigingsvoorsitters, vrouedienslede en talle ander persone in, wat op een of ander wyse ’n invloed op hul gemeenskap het.
Elke Voortrekkeroffisier wat leiding vir kinders gee, is ’n gemeenskapsleier in eie reg. Met sy verkiesing as Hoofsekretaris in 1989 het Isak Lessing gesê: “Die Voortrekkersaak is ’n geloofsdaad. ’n Verkiesing tot Voortrekkerleier is ’n roeping tot diens.”
’n Gemeenskapsleier se verantwoordelikheid word nie bepaal deur posisie of titel nie, maar deur sy dienswerk. Deur diensbaarheid ontsluit kultuurleiers die potensiaal in ander om hulself te verwesenlik.
Gemeenskapsleiers se invloed word anders gemeet as dié van politieke of ekonomiese leiers. Die invloed van ’n gemeenskapsleier word gemeet in welke mate die leier daarin geslaag het om die gemeenskap se karakter positief of negatief te vorm.
Gemeenskappe se karakter word gevorm deur die gemeenskapsleier se vermoë om:
- te netwerk met die doel om samewerking tussen rolspelers te bewerkstellig
- positiewe waardes in die gemeenskap te vestig
- betrokke te wees by gemeenskapstrukture
- te fokus op gesinne, kinders en jongmense. Gesonde gesinne is die kernbousteen van ’n gesonde gemeenskap en kinders en jongmense is die gemeenskapsleiers van die toekoms.
Die Voortrekkers is geseën met honderde plaaslike leiers en Voortrekkeroffisiere wat as ABC-mense reeds die verskil in hul omgewing is. Dit is vir Die Voortrekkers ’n prioriteit om ons plaaslike leiers te koester en hulle toe te rus om:
- hul roeping as eietydse kultuurleiers te verstaan en te ontwikkel.
- hul gemeenskappe met positiewe waardes te beïnvloed.
- deur gemeenskapsbetrokkenheid die sigbaarheid van Die Voortrekkers te vergroot en daardeur die organisasie ook in getalle en invloed te laat groei.
4. Bekostigbare Voortrekkers
Voortrekkers moet ’n integrale deel wees van ’n Afrikaanssprekende kind se lewe. Die probleem is dat dit so duur geword het dat die oorgrote meerderheid ouers dit nie kan bekostig om hulle kinders deel te maak van hierdie puik organisasie nie.
Opmerking van JJ Karsten op Facebook
Finansies mag nie ’n rede wees hoekom ’n kind nie ’n Voortrekker kan wees nie.
Kultuurorganisasies sal toenemend deur middel van kulturele entrepreneurskap finansiële bekostigbaarheid en volhoubaarheid moet verseker. Kulturele entrepreneurskap is die enigste manier om Afrikaanse kultuurerfenis suksesvol en volhoubaar te bevorder en Die Voortrekkers bekostigbaar te hou.
Baie plaaslike Voortrekkerkommando’s en spanoffisiere samel reeds geld in deur projekte of borge om kinders in nood te help. Voortrekkerkampe subsidieer reeds baie jeuglede in nood. Sommige gebiede het ook ’n ledehulpfonds. Die probleem is groter as wat plaaslik hanteer kan word. Bekostigbare oplossings lê nie net in besparing of fondsinsameling nie, maar moet ook sistemies gevind word.
In die volgende termyn sal die Hoofbestuur aandag gee aan:
- Die ontwikkeling van ’n ledegeldmodel om plattelandse gebiede tegemoet te kom.
- Besparing deur nasionale strukture.
- Die ontwikkeling van ’n nasionale, gebieds- en plaaslike donateursnetwerk.
- ’n Taakspan daar stel om Voortrekkerstrukture en grense indringend te ondersoek ten einde bekostigbare alternatiewe moontlikhede voor te stel.