Kranslegging by gedenksteen vir Dalene Matthee in die Knysnabos

deur Henriëtte van Niekerk

Die reën het saggies begin val, terwyl ons deur die Knysna- inheemse woud met ’n grondpad ry, na Krisjan-se-nek in die Goudvelde van Knysna. Opgewonde jeuglede van die George Voortrekkerkommando het uit twee voertuie geklim en dadelik opgekyk na die jare oue stinkhoutboom wat oor die gedenksteen getroon het.

Ons het by die gedenksteen ’n gedenkdiens bygewoon, wat opgerig is ter nagedagtenis aan Dalene Matthee wat baie fantastiese Afrikaanse leesboeke geskryf het oor die pragtige omgewing en sy mense. Dalene Matthee het altyd onder die stinkhoutboom gaan sit en haar inspirasie gekry om al die boeke te skryf.

Dalene Matthee is al 16 jaar oorlede en het nog steeds ’n groot impak op ons Afrikaanse jeug. Haar suster se dogter het meer oor Dalene Matthee as persoon vertel. Die Dames Aktueel asook George Voortrekkerkommando het toesprake gelewer oor die waarde wat Daleen Matthee se boeke in hulle almal se lewens al gespeel het en nog steeds doen.

Die “Kringe-in-’n-bos”-staproete is gestap na die kranslegging wat bygewoon is deur oud en jonk. Die vars reuk van die natuur het ons laat soek na die “Grootvoete”!

Die geskiedkundige geleentheid is afgesluit met ’n heerlike piekniek by Jubilee Creek waar die kinders natuurlik voete gaan nat maak het in die Bergrivier met sy helder skoon water!

Dit was vir George Voortrekkekommando beslis ’n voorreg om deel te kon wees van hierdie besonderse geskiedkundige gebeurtenis.