Kursusnaweek op Doornkloof
Vrystaat Voortrekkers het 2018 afgeskop met ’n baie suksesvolle opleidingsnaweek op Doornkloof. Die energie en groei word gesien in ’n derde van die volwassenes wat splinternuwe Voortrekkeroffisiere is. Boonop begin die Vrystaat met twee splinternuwe Voortrekkerkommando’s in Clocolan (Reeboksberg) en CR Swart by Hoërskool Sand du Plessis in Bloemfontein. ’n Nuwe kommando in Bultfontein is in die pyplyn. Die naweek is ook bygewoon deur volwassenes van Noord-Kaap Voortrekkers (Kimberley en Kathu) asook Potchefstroom en Heidelberg. Dit was lekker om 14 splinternuwe offisiere van Natal (Dundee en Newcastle) te ontmoet wat opleiding ontvang het. Natal Voortrekkers se entoesiasme is ’n inspirasie. Die afgelope paar maande is daar hard gewerk op Doornkloof met o.a. paaie, ’n leierskap- en spanboubaan, kerkie in die ou tuin, verblyf vir werkers wat nuut ontwikkel is en fasiliteite soos die kombuis en ou huis wat opgeknap is.