Lunsklip 2017 – die buffelkamp
Lunsklip 2017 het amper nie plaasgevind nie! ’n Maand voor die kamp het die natuurbewaarder op die Percy Fyfe Reservaat, waar die kampterrein geleë is, laat weet dat daar ’n boma vol buffels in die middel van die kampterrein is. Die buffels, wat van die reservaat afkomstig is, was verkoop, maar daar was ’n dispuut tussen die koper en Natuurbewaring. Die natuurbewaarder het net gesê jammer, onder geen omstandighede kan die kamp plaasvind nie.
Die eerste Lunsklipkamp was in 1962 en sedertdien was daar elke jaar ’n kamp op dieselfde terrein. Vir die kampleier, Malan le Roux, en die dagbestuur, was dit net eenvoudig ondenkbaar dat die 56ste kamp nie daar sou plaasvind nie. Veral omdat die inskrywings vir die kamp intussen begin instroom het. Dit het duidelik geword dat dit die grootste kamp in jare sou wees.
Na baie telefoonoproepe, onderhandelinge en veral gebede, is die buffels ’n week voor die kamp, op bevel van die Staatsveearts, vrygelaat in die buffelkamp waar hulle vandaan gekom het. Maar dit was nie die einde van die probleme nie. Waar die boma vir ses maande staan gemaak is, was diep slote, nog dieper gate en berge en berge buffelmis. En dit in die middel van ons pragtige kampterrein. ’n Kontrakteur is aangestel en ’n dag voor die kamp sou begin, is die terrein, teen groot koste, gerehabiliteer.
Die kombuis, waar die buffels se oppassers vir ses maande gewoon het, moes ook uitgeverf en skoongeskrop word. Die badkamers was in ’n toestand.
Teen die tyd dat die Verkenners opgedaag het, was net die vlieë en bosluise en die rooi gruis wat die kaal grond moes bedek waar eens groen gras was, die enigste aanduiding van wat die vorige ses maande in die kampterrein gebeur het.
Die sowat 250 Verkenners, offisiere, Staatmakers en Jeugvriende het vanjaar ’n fantastiese kamp beleef. Dit was asof al die spanning, moeilike besluite, harde werk en volgehoue gebede uitgeloop het op ’n hoogtepunt met ’n kamp wat vir baie jare nog onthou sal word vir die groot groep oulike Verkenners; ’n toegewyde span groepoffisiere; ’n nuwe kampleier en nuwe kampbestuur wat ’n formidabele span vorm; nuwe kursusse wat besonder suksesvol was; harde reënbuie wat betyds opgeklaar het sodat die program nooit ontwrig is nie; lekker kos; skaterlag kampvuurkonserte; trotse seremonies en baie meer. Alles wat Lunsklip, Lunsklip maak.
Vanjaar se besonderse kampembleem vertel ’n paar stories. Die Afrika-kontinent is baie prominent, want ons is nie net Afrikaners nie, maar ook Afrikane. Die Blinkblaar Wag-’n-bietjie-boom is boom van die jaar en is volop op Percy Fyfe. Die boom is simbool van ’n stamboom en die wortels is geanker in Suid-Afrika. Die 500-jarige herdenking van die Hervorming is ook gedenk met Luther se baie simboliese roos. En dan is ’n buffel ook agterna bygevoeg. Hierdie kamp sal vir altyd as die buffelkamp onthou word. Die kamp wat net kon plaasvind omdat gebede verhoor is en Lunsklippers nooit moed opgee nie.
Deur: Janie van Heerden