Lunsklip 2021 – vir die 59ste keer
deur Janie van Heerden
Wat die 60ste kamp moes wees, was toe slegs die 59ste een. Lunsklip wou so graag die 60ste kampjaar saam met Die Voortrekkers se 90ste jaar vier. Nou sal Lunsklip maar net Die Voortrekkers se groot jaar volgende jaar groter maak!
Om ’n hele kamp te moes oorslaan, was regtig swaar. So baie geleenthede en ervarings wat verlore is – veral vir die gr. 11- en 12-Verkenners. Daar is gewoonlik slegs een geleentheid om Buitegroep en Selfbehoud te doen, maar eie aan Lunsklip het die offisiere kreatief gedink en beplan en kon daar soveel moontlik van wat verlore gegaan het in 2020, vanjaar ingehaal word.
Buitegroep 2020 kon vanjaar steeds kamp – al was hulle nou nie meer Verkenners nie. En die gr. 12’s, wat in 2020 Selfbehoud en die keurkamp misgeloop het, het vanjaar ’n spesiale Selfbehoud, met ’n BG-ervaring gehad, as die “Matrix-groep”. Vir albei hierdie groepe was dit baie spesiaal.
Lunsklip 2021 sal onthou word as ’n baie geseënde kamp.
Ons sien nou net nóg meer uit na die 60ste!