Lunsklip hou virtuele kampvuurkonserte terwyl die virus ons inperk

deur Janie van Heerden

As gevolg van Covid-19 kon Lunsklip 2020, soos ’n paar ander Voortrekkerkampe, nie in Maart plaasvind nie.  Dit was uiteraard ’n groot teleurstelling. Vir ’n jaar lank word daar beplan aan ’n kamp, voorberei vir die kamp en uitgesien na die wedersiens, die lekker kampkos, die veldervarings, die kuiers. Die kampvuurkonserte.

Kampvuurkonserte is een van Lunsklip se baie mooi tradisies. Dit word nie sommer net op die kamp saamgeflans nie. Vooraf word dit bedink, bespreek, beplan en na uitgesien.

Dis nie net die uitstel van die kamp wat vir die Lunsklippers moeilik was om te verwerk nie, dit was ook die inperkingswette wat saamkuier onmoontlik gemaak het. Maar dis  juis in moeilike omstandighede wat kreatiwiteit floreer. Die President het ons skaars ingeperk, toe word daar beplan aan ’n virtuele kampvuurkonsert. En een konsert het vyf geword.

In verskillende huise, oor provinsiegrense en selfs uit Brittanje, word liedjies gesing en opgeneem. Een het orrelbegeleiding wat ook afsonderlik opgeneem is. Tradisionele Lunsklip-, Voortrekker- en Afrikaanse liedere, asook oorspronklike liedjies wat Lunsklippers lank terug of baie onlangs geskryf het, word gesing en opgeneem.  Vir ’n geliefde of oor die kamp of oor ’n spesiale ervaring.  Soms is die sangers in dieselfde huis ingeperk, maar soms is hulle in verskillende huise en selfs provinsies.  Van die video’s word deur oud-Lunsklippers gemaak, ander deur jong offisiere en selfs Verkenners. Tuisvideo’s word vervaardig met wenke vir staptogte, stapkos of hoe om mopaniewurmbredie te maak.  Soms skaterlag die gehoor (in hulle eie huise), soms is dit ’n lag met ’n traan en soms stroom die trane vrylik.

Soos dit hoort, het elke konsert ’n seremoniemeester en is daar grappige en ernstige items en baie sang. Elke konsert word ook met die “Magaliesburgse aandlied” en “Aanduur daal” afgesluit. Soos ons dit altyd op Lunsklip doen. Maar nou is daar soveel meer betekenis in die woorde.

En so sit Lunsklippers en Lunsklipvriende ingeperk in hulle eie huise oor die wêreld heen, en kyk vir ’n handvol aande na kampvuurkonserte op hulle selfone of rekenaars, en vergeet vir ’n tydjie van ’n pandemie wat ons lewens in die jaar 2020 heeltemal omgekeer het.

Hou Koers dan tot ons weer ontmoet! Alles wel. God regeer.

Gaan loer gerus op die Lunsklip Facebook-blad vir die skakels na die konserte.