Magalieskruin se 90jaar projekte

deur Carien van Niekerk

Magalieskruin se 90jaar projekte het o.a. ingesluit: 90WOEF-projek met die insamel van 90 sakke honde- en katkos; 90SOP met verskaffing van sop en broodjies; 90knope in ’n tou-middag is gehou; en Oom Paul se sterfdag is met 90 linte om sy beeld in Rustenburg gevier.

 

90WOEF-projek

Magalieskruin het ondanks die Covid-inperkinge tog uitgereik na die gemeenskap. Met ons 90WOEF- projek het ons 90 sakke honde- en katkos ingesamel en aan die DBV/SPCA in Rustenburg gegee. Ook het ons in Junie 90SOP gedoen waar ons pakkies sop en broodjies vooraf verpak en aan die munisipale woonstelle in Rustenburg verskaf het. Terwyl soveel aktiwiteite tot stilstand gekom het, is dit belangrik om uit te reik na ander en om tee. Magalieskruin welgedaan!

 

90knope in die tou

In Augustus het Magalieskruin Voortrekkers ’n 90+projekmiddag gehou om die 90ste bestaansjaar te vier van DIE VOORTREKKERS. Ons het vir die Vories ’n paar knope geleer soos die skuifknoop, visserknoop en die booglynknoop. Ons het ook toe al die toue aanmekaar geknoop om 90 knope te maak. Met die sosiale afstand, was dit maar ’n lang proses, maar baie pret. Op die foto wys Ryan Kleynhans hoe lyk die skuifknoop.

 

Herdenk Oom Paul se sterfdag op 14 Julie 1904

Die FAK het in 2021 kommando’s aangemoedig om Oom Paul Kruger se sterfdag op 14 Julie te herdenk. Magalieskruin het 90 linte gebind by die standbeeld van Oom Paul in Rustenburg. Op die foto is Derik Ferreira besig om die linte te knoop.

 

Ander Magalieskruin-gebeurtenisse:

Rooibulkanon – ’n blye weersiens vir Magalieskruin Voortrekkers

Op Saterdag 13 Maart 2021 het Magalieskruin Voortrekkers se Pikkewyne-span van tannie Corrie, Boekenhoutfontein besoek as deel van hul Gedenkwaardighede-kenteken. So het hulle die Boerekant van die ABO-storie gehoor, maar kon toe ook gaan kyk en luister na die Engelse se kant. Die kinders was so opgewonde om die Rooibulkanon te sien. Op die eerste foto vlnr is Mienke Byliefeldt, LeRoux Byliefeldt en Rilee van Dalen by die Rooibulkanon.

Dit was ’n blye weersiens want Magalieskruin Voortrekkers was betrokke by die verskuiwing van die Rooibulkanon vanaf Krugersdorp na Kedar Lodge op 10 Mei 2016. Op die 2de foto is die destydse groep by die kanon waar dit deur Rustenburg beweeg het. Ook het tannie Corrie se pa, Sakkie van der Bank, die skoot afgevuur toe die kanon op Boekenhoutfontein/Kedar Lodge aangekom het. Hy was ’n entoesiastiese wapentuigkenner. Hy is ook die oupa van Mienke en LeRoux wat by die kanon staan.