Medemenskamp op Boknes
deur Riana Breytenbach
Vanjaar was weereens ’n lekker kamp waar ons kon speel en leer. Die wonderlike voorreg wat ons het om op die ongeskonde strand van Boknes te kamp, bly ’n wonderlike voorreg. Om God se skepping so te kan beleef, kan in geen woorde beskryf word nie, en daar kan mens werklik na aan ons Skepper leef.
Daar is visgevang in die see, prawn getrek om as aas te gebruik en die opwinding was baie groot toe die eerste vissie uitgetrek word. Die volgende dag is ons met laagwater na die rotspoele en met flitse het ons die lewe in ’n rotspoel bestudeer: seekatte is gevang, alikreukels, seesterre, seeslakke en seemossels is bestudeer en met groot verwondering teruggesit in die see. Daarna is ons terug kampterrein toe vir ons wagstaan beurt. Groot was ons teleurstelling toe ons die volgende oggend uitvind dat almal deur die Buitegroep gevang is behalwe die Gr 7’s! Ons het heerlik geslaap. Ons het ook uitgevind dat dit ’n kuns is om ’n vlieër in die lug te kry. Met akkuraatheid is daar gesaag, kniehalters en kruisvaswoele gemaak, geplak en geverf. Die vreugdekrete het opgegaan elke keer wat ons vlieërs bokant die kamphuis gewapper het.
Ons besoek aan oom en tannie Iris Blom van Boknes was baie spesiaal. Sy het ook vir ons stories vertel van Boknes en haar kinderdae. Ons is verder op ons roetemars gestuur met ’n tuisgebakte koekie nadat ons vir haar ’n melktertresep oorhandig het.
Medemenskamp op Boknes is ’n kamp waar ware vriendskapsbande gesmee word.