’n Kommando e-nig in sy soort

deur Anja Louw

Waar daar ’n wil is, is daar ’n weg – en Weltevrede-kommando kan voorwaar spog met ’n baie sterk wil. Terwyl grendeltyd almal veilig by hul huise hou, het kommandoleier, Hein Coetzee, inisiatief geneem en sy span na nuwe avonture gelei. Op Saterdag, 11 April 2020, het Weltevrede hul eerste e-kamp gehou. Met die hulp van Gawie Naudé en Johan Nefdt, is die kamp regstreeks op al Weltevrede se sosialemediaplatforms uitgesaai.

Elke offisier het hul eie item voorberei en elke uur, op die uur, is ’n nuwe aktiwiteit uitgesaai. Die dag het met opening begin, gevolg deur ’n les oor hoe om sakkie-omelette vir ontbyt te maak. Daarna het al die e-kampeerders hul lywe gewikkel met tuinoefeninge en geleer hoe om maskers te maak. Eierkuns, Moedersdaggeskenke en vetplanttuintjies was die kreatiewe aktiwiteite op die agenda. Verskillende vuuraanpakmetodes is gedemonstreer en heerlike piesangnagereg is op die kole gemaak. Flatersjef Heino het ook sy debuut gemaak – ’n skaterlagtreffer met sy unieke weergawe van piesangbrood en skilpadjies. Ná ’n virtuele skattejag is die e-kamp afgesluit met ’n kampvuurkonsert waarvoor almal video-items ingestuur het.

Tussendeur al hierdie aktiwiteite het die e-kamp ook sy eie nuuskanaal gehad waar boodskappe van onder andere, die kampleiers van Jakaranda, Thaba en Lunsklip gedeel is.

Die e-kamp het definitief die hartseer effe verlig nadat die een gebiedskamp na die ander gekanselleer moes word, en het ook ’n bietjie sosialisering ingebring deurdat almal foto’s kon instuur van hul deelname deur die dag, wat dan dadelik uitgesaai is. Die skattejag het ook prysgeld op die spel gehad vir die vinnigste inskrywings. Met 627 kyke op YouTube tot dusver, was Weltevrede se eerste e-kamp beslis ’n treffer.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Weltevrede hou daarna, op 25 April 2020, hul eerste interkommando inperkingsvasvra vir Verkenners en offisiere. Die vasvra, gereël deur Charl Spangenberg, het gesorg vir lekker leer en lag tussen die 20 spanne, met afdelings vir Afrikanerskap, Burgerskap, Christenskap en algemene kennis. Klapperkop se offisiere het koning gekraai, en Touleier se Renosterbulle was die top Verkennerspan.

Op Maandag, 27 April 2020, het Weltevrede ook ’n familie-vasvra gehou waaraan 38 spanne deelgeneem het. Dit was ’n reusesukses, met kommando’s van ver en wyd wat deelgeneem het. Nog vele vasvra-aande word beplan – nie net vir tydens die inperkingsperiode nie, maar ook daarna.

Al hierdie suksesse het Weltevrede kommando gemotiveer om elke week ’n e-spanbyeenkoms te hou en sodoende die Vorie-gees warm te hou dwarsdeur die winter.

Gaan besoek gerus enige van Weltevrede se sosialemediaplatforms waar toekomstige e-aktiwiteite aangekondig sal word. Al die video’s van die e-kamp is nog steeds beskikbaar op hierdie platforms – hou sommer jul eie kamp hierdie naweek indien julle dit misgeloop het!

Party dae mag die mismoedigheid mens dalk wil oorval, maar onthou altyd om koers te hou en te weet: “Nie eers ’n wêreldwye virus kan ons onderkry.”

 

 

YouTube:             https://www.youtube.com/channel/UCUyoNyBiIvDOD28PYGnqLog

 

Facebook:           https://www.facebook.com/groups/58801696212/

 

Instagram:          https://instagram.com/weltevredevories?igshid=b8vjf7wfxosv