’n Nagmars in die kuberruim
deur Charene Roux
As daar ’n wil is, is daar ’n weg! Toe ons jaarlikse nagmars weens grendeltyd nie kon plaasvind nie, het Magaliespoort-kommando hierdie spreekwoord laat lewe!
’n “Virtuele” nagmars het die lig (skerm) gesien! Onder leiding van tannie Esther Visser en Jeugleier Chante as regisseuse en Dirk Theron as kameraman en redigeerder, is video-opnames vooraf gedoen – alles natuurlik binne die voorgeskrewe maatreëls van grendeltyd – en die persone betrokke by hierdie opnames sê dat hulle die maak daarvan net soveel geniet het as die nagmars self.
Die tema van die nagmars was “20/20 visie – met watter bril kyk jy”. Vier punte het die nagmarsvideo’s aanmekaar gegom, waar die deelnemers keuse antwoorde op vrae kon beantwoord.
Die nagmars het uit twee roetes bestaan wat uiteenlopende “stories” vertel het. In beide gevalle het die nagmars rondom ’n wildbesigtigingsrit en staproete gewentel wat bietjie “verkeerd” loop. Met die groen roete stap offisier Charl te vinnig en raak verwyderd van sy makkers. Hulle volg sy spoor en hy “verskyn” weer op die einde met die verskoning dat hy vir Bernard en Christiaan “gevolg” het. Met die rooi roete daarenteen word Charl van die gidsvoertuig afgepluk en hy “verdwyn”. Bernard en Christiaan moes hom soek en volg toe ’n “bloedspoor”. Ook hier “verskyn” Charl op die einde met ’n bebloede hand (gelukkig nie regte bloed nie).
Baie van die terugvoer wat ontvang is, het aangedui dat almal van PD’s tot Staatmakers en selfs volwassenes, die nagmars baie geniet het. Sommige het selfs beide roetes aangedurf!
Daar is deurlopend op die ABCD van Die Voortrekkers gefokus en selfs ’n paar interessante spoorsnyfeite vir nie-Voortrekkers, wat ook deelgeneem het, geleer.
Dit was ’n eerste in baie opsigte … Die eerste virtuele nagmars vir Magaliespoort; die eerste keer dat Pretoria-Noord Oorgangsoord soveel nasionale deelnemers gehad het; en dat ALMAL dit geniet.
Hier is bietjie van die oorweldigende positiewe terugvoer wat ontvang is:
“Baie baie oulik, baie geluk” – Jacques Roux (Voortrekkervriend, Centurion)
“… dit was oulik aangebied – ons het dit regtig geniet. Veels geluk” – Raylene (Ouer, Pretoria-Noord)
“Ek was baie opgewonde en het baie geleer in die groen roete, maar ek het die rooi roete ook gedoen en dit was baie ‘scary’ maar baaaaie lekker!…” – Christine Kriel (Gr. 2 Magaliespoort-kommando)
“… dit was baie goed uitgedink … die storielyn was baie interessant en opwindend. Wat ek ook van gehou het was dat ons ’n storie kon kyk terwyl ons meer van Die Voortrekkers geleer het …” – Armand (Verkenner, Magaliespoort)
“… ons het lekker saamgespeel … hy (Nicolas) het baie daarvan gehou, veral die interaktiewe deel …” Corlia (Voortrekkervriend, Sutherland)
’n Groot en baie dankie vir almal wat hierdie nagmars moontlik gemaak het! Dit was ’n briljante idee en ’n reusesukses!