’n Terugblik op die afgelope vakansie se kampe
deur Danie Langner
Die afgelope vakansie het duisende Voortrekkers regoor Suid-Afrika gekamp. Ek was bevoorreg om saam met Corlia Botha (Adjunkhoofleier: Organisasie) en Elizma Smith (Adjunkhoofleier: Penkoppe en Drawwertjies) Voortrekkerkampe in Gauteng, Noordwes en Limpopo te besoek. Dit was om die minste te sê ’n positiewe en inspirerende belewenis. Hiermee ’n paar breë aantekeninge oor die afgelope reis:
- Daar is nie genoeg woorde om dankie te sê vir ons volwasse lede nie. Hoe kan ons ooit genoeg erkenning gee aan die letterlik honderde Voortrekkeroffisiere wat hulle gesinstyd, verlof, kundigheid so onselfsugtig vir ons kinders gee? Daar is nie een kamp waar ons Voortrekkeroffisiere nie voortdurend gevra het wat kan ons meer doen om dit lekkerder of beter of die aktiwiteit meer waardevol vir die kinders te maak nie. By meer as een kamp het ek Voortrekkeroffisiere raakgeloop wat pas een kamp afgesluit het en amper dadelik by ’n ander kamp gaan dien het. Dit is nie net ’n opoffering van verloftyd nie, maar kos hulle ook baie geld. Ons Voortrekkeroffisiere kamp nie verniet nie. Dit sonder om erkenning te verwag of te soek. Ek wil glad nie dramaties klink nie, maar weet ook nie hoe om dit anders te sê nie. Die toewyding, entoesiasme, kreatiwiteit, opoffering, harde werk en liefde vir ons kinders wat ek die afgelope week by ons Voortrekkeroffisiere ervaar het, laat my bewoë. Dit word raakgesien en waardeer. DANKIE is ’n woordjie wat ons opreg bedoel.
- Ons kampe is divers en bied unieke ervarings binne hulle eie konteks. Dit is ’n groot voordeel. Daar is ’n kamp en kursus vir elke kind en persoonlikheid. Of dit nou veldwerk, roeikuns, beeldende kunste of sterrekunde is, daar is ’n plekkie vir elkeen. Voortrekkers is lankal verby die punt dat almal jaar in en jaar uit dieselfde kamp moet bywoon. Vind meer uit en kies ’n kamp en kursus wat vir jou kind lekker sal wees. Ek is byvoorbeeld spyt ek het nie vroeër geweet van plantekennis by NPD nie. Nou is die tweeling te groot.
- Gee jou span wyer blootstelling deur minstens een maal ’n Voortrekkerkamp in ander provinsies by te woon. Dit was lekker om Natallers by SPDW, Namibiërs by Rhus keeti en Noord-Kapenaars by Lunsklip te sien. Melanie het saam met ons drie tieners en ’n span van Polsslag in Centurion by Boknes in die Oos-Kaap gekamp. Terselfdertyd het ’n span van Suiderkruis in Pretoria die Kompieskamp op Doornkloof in die Vrystaat bygewoon. Dit is verrykend om ander Voortrekkerkampe te ontdek as die een waaraan jy gewoond is. Ons sing mos: “Op hierdie kamp leer ons vriende maak, op ’n wyse wat ons toekoms raak.”
- Voortrekkerkampe word gekenmerk deur ’n Christelike waardegrondslag wat kinders se karakter ontwikkel. Ek was beïndruk met elke kamp se uitstekende tema wat hulle ontwikkel en toepas, vanaf Bybelstudie in die oggend tot aktiwiteite in die aandprogram.
- Die inhoud van die kentekens is van die hoogste gehalte, selfs op ’n hoër vlak as skoolwerk. Dit word deur baie kundige mense aangebied wat kenners van die onderwerp is. Moenie dink alles is vervelige teoretiese lesings nie. Die inhoud word prakties verpak in unieke KAN-ervarings. Daar is hope pret. Dit was heerlik om te beleef en self by kinders te hoor hoe hulle die kursusse geniet.
- Elke kamp het ’n unieke natuurskoon. Horisonne en asemrowende sonsondergange langs die Vaaldam, kampvure in die Waterberge se bosveld, majestueuse klipkoppies in Percy Fyfe se natuurreservaat tot watervalle, glyklippe, broodbome en woude in Modjadjikloof. Hier ervaar kinders vryheid.
- Die veiligheid, toegangsbeheer en risikobestuur van elke kamp het my beïndruk. Voortrekkers is nog altyd oplettend en weerbaar, maar my ervaring is dat ons nog meer wakker en waaksaam is. Ons kinders se veiligheid is ononderhandelbaar.
- Selfs met die beste beplanning gebeur ongelukke maklik. Op elke kamp was daar goed opgeleide noodhulppersoneel, gebeurlikheidsplanne en ’n insidente-register. By NPD het daar selfs twee mediese dokters gekamp; op Lunsklip ’n bekende chirurg wat by Unitas hospitaal opereer; by Thaba ’n hoogs opgeleide paramedikus wat al die pad van Durban kom. Jaar na jaar besef mens net weer hoeveel genade daar is met soveel Voortrekkers op die pad en in die veld. Ons is dankbaar teenoor die Here vir Sy sorg, en dankbaar vir die versigtigheid en goeie oordeel van elke volwasse lid.
- Baie kampe fokus op diensbaarheid teenoor ons medemens en gemeenskap. Ons ontvang baie en gee graag terug.
- Ek is verstom oor die wyse waarop kampe in ’n baie moeilike ekonomiese klimaat rande rek en sente omdraai om steeds bekostigbaar vir kinders te wees. Die meeste kampe werk met ’n begroting van onder ’n R100 per kind per dag wat die huur van die terrein, drie etes, tussenin-verversings, pette, hempies en baie van die kursusmateriaal insluit. Ek haal my hoed af. Dit vra fyn beplanning. Dan praat ons nie eers van die groterwordende groep kinders wat Voortrekkerkommando’s en kampe subsidieer nie. In Die Voortrekkers mag geld nooit ’n rede wees waarom ’n kind nie ’n kamp kan bywoon nie. Ons maak altyd ’n plan.
- So gepraat van kos. Kampkos is lekker. Kampkos is kwaliteit kos. Baie keer eet mens lekkerder op ’n kamp as by die huis. Let maar net op hoeveel kinders gaan haal ’n tweede, derde en vierde porsie. Kombuisspanne werk ontsettend hard. Dit is nie ’n ligte werkie om vir 300, 400 of 500 honger Voortrekkers kos te maak nie. Hulle staan lank voor die ander op as dit nog donker is en gaan slaap laat in die nag.
- Die hoërskoolkampe wat ons besoek het, se bywoning het gemiddeld met 8% gegroei. Op elke kamp het ons splinternuwe Voortrekkeroffisiere ontmoet wat vir die eerste keer kamp. Ook ouers, veral pa’s, wat saam met hulle seuns kom kamp. Voortrekkers bly die beste gesinsaktiwiteit.
- Ek was veral bly oor die groot hoeveelheid studente en jongmense wat kamp. Hulle bring energie, vars idees en is as diensbare leiers rolmodelle vir ons kinders. Op Thaba was 42 van die 61 volwasse lede jong Staatmakers.
- In ’n tyd van afbreek, wanorde en rommel in ons riviere en natuur, was die orde en netheid op elke kamp opvallend. Op geen kamp was daar papiere of rommel wat rondgelê het nie. Geen kampkantoor, saal of kombuis was slordig nie. Lank voordat “Groen” ’n ideologie en herwinning ’n modewoord geword het, het Die Voortrekkers die natuur met sorg en respek hanteer. Ons doen dit steeds.
- Simbole het weereens ’n strydpunt en slaanstok in ons land geword. Dit was goed om te sien hoe kampe met drie vlagpale, skilde en vaandels ons veelvoud van identiteite gemaklik vier, hoe kultuurliedere by seremonies gesing word en die trots waarmee dit gedoen word. Dit is iets wat beslis verder ontwikkel moet word.
- Ek is baie bly ons beweeg anderkant die skree- en slagkreet-fase. Die sing van ou bekende en gewilde Voortrekkerliedjies skep ’n ongelooflike atmosfeer, gees en samehorigheid. Selfs “Tortelduifie” met sy moderne ritme. Dit roep baie goeie herinneringe op.
- Laastens, Kuifie is ’n ster.
Dankie aan elke ouer wat aan Die Voortrekkers die geleentheid bied om in julle kinders se lewens betrokke te raak. Die eerste Voortrekkerkamp was in 1933. Sedertdien bou Die Voortrekkers jaar na jaar, dekade na dekade op die fondamente. ’n Voortrekkerkamp is veel meer as ’n konstruktiewe besig hou van verveelde kinders in vakansietye, of ’n gesonde alternatief vir selfoonspeletjies. Dit is ’n toekomsbelegging wat ons kinders se menswees vorm, en bymekaarmaak van unieke ervarings en vriendskappe vir dekades wat kom. Voortrekkerkampe is, in die woorde van WEG Louw, brandhout vir die lang nagte wat op ver paaie rus.
Foto: Melanie het die foto geneem van die graad 9-Strandvernuf-groep by Boknes wat na die Dias-kruis by Kwaaihoek stap.