‘n Terugblik op Geloftekamp 2023

Net voordat ons hierdie jaar behoorlik begin kamp, moet ons tog bietjie reflekteer op 2023 se laaste kamp… Die Geloftekamp! Elizma Smith skryf oor wat hulle alles aangevang het in die Vrystaat.

 

Die Geloftekamp van 2023 het plaasgevind in die Vrystaat met die Vegkop Monument as kamp-embleem. Met Udolpho Rivierplaas as basiskamp, het ons die Groot Trek geskiedenis verken tydens besoeke aan verskillende historiese bakens in die Vrystaat.

Dit het heerlik gereën toe ons die nag oorgeslaap het op die plaas waar Sarel Cilliers sy laaste jare deurgebring het, Doornkloof. Die gebiedsleier van Vrystaat Voortrekkers, Willie Engelbrecht, het ons geneem op ‘n toer van die plaas – Cilliers se woonhuis waar hy tydens ‘n biduur oorlede is, sy graf, die ou tuin, en die museum waar die Sarel Cillierswa wat in die 1938 Simboliese ossewatrek gebruik is, bewaar word.  ‘n Kranslegging seremonie is gehou by sy graf.

Op Winburg, reeds gestig in 1835, neem ons ‘n foto by die naambordjies wat Nico van der Merwe en Voortrekkerstrate aandui. Dit maak sin as jy weet dat die eerste hoofleier van Die Voortrekkers, NJ (Nico) van der Merwe, die spreker op die plein by Winburg was toe die die ossewaens tydens die 1938-Ossewatrek daar aangedoen het.  In Winburg, Senekal en Kroonstad besoek ons pragtige kerke, konsistories, tuine en omliggende pleine waar monumentjies, standbeelde en ander erfenis items nog bewaar en veilig gehou word. Die besondere binnekante van hierdie historiese kerke verras elke keer en gee ‘n gevoel van ‘n Europese plek van aanbidding.

Ons geniet eendag middagete in die skaduwees van die Voortrekkermonument op Winburg en stap op na die monument, ‘n pragtige struktuur wat hoog uittroon. Vegkop het sy eie bekoring. Ons besoek die bestaande museum en ‘n nuwe museum wat pas ingerig is om ‘n paar dae later tydens Geloftedag oopgestel te word voor ons na die monument stap.  Waspore in sement voor die saal herinner jou dat die Simboliese ossewatrek ook hier aangedoen het in 1938.

‘n Besoek aan die gedenksteen waar die Sandrivierkonvensie tussen Brittanje en Andries Pretorius en sy afvaardiging onderteken is, herinner aan ons voorouers se strewe na vryheid en onafhanklikheid. Die besoek aan Liebenbergkoppie en die Voortrekkergrafte vertel een van die vele verhale tydens die Groot Trek van lewensverlies in die soeke na hierdie vryheid en onafhanklikheid.

Op dorpe waar ons aandoen en met inwoners gesels verneem ons hoe gereed gemaak word vir Geloftedag.  By die Winburg Voortrekkermonument is ‘n hele blok van ‘n amfiteater, wat ‘n paar jaar gelede nog toegegroei was, skoongemaak reg vir die Geloftediens op 16 Desember.

Op Udolpho het die groep in die ossewaens geslaap, gekuier, gesing en gespeel in en om die kultuurstoor en die Henning Klopper saal en lekker gedans saam met die Wapadrand Boeredansgroep wat vir twee dae kom kuier.

Elke aand is die Gelofte afgelê en ‘n skoot afgevuur. Ons sluit af op 16 Desember met die bywoning van die eerste Geloftediens op Udolpho en neem ook deel aan die klipstapeling.  Soos by die kransleggingseremonie by die graf van Sarel Cilliers, ‘n paar dae tevore, laat Voortrekkerkinders jou hart warm klop met ‘n besondere stylvolle vlagseremonie voor die aanvang van die Geloftediens.

Nog ‘n Geloftekamp loop ten einde waartydens nog ‘n faset van die Groot Trek ontgin is en geleenthede gebied is om nuwe plekke met interessante stories te ervaar. Dankie aan elke volwassene vir jou bydrae op hierdie kamp. In Desember 2024 toer ons verder.

Besoek gerus die Geloftekamp se Facebook bladsy vir meer artikels oor die kamp.  https://www.facebook.com/profile.php?id=100078824362547

deur Elizma Smith

Vegkop

 

 

 

 

 

 

 

 

Doornkloof – Kranslegging Seremonie