Namibië se Verkenners durf die Visrivier aan

Die Namibiese Verkenners het vanjaar vanaf 20-26 Augustus die 90 km Visrivier-staproete gaan stap.

Die groep het bestaan uit 32 kinders, 4 offisiere, 2 heemrade en ’n mediese dokter. Die beplanning vooraf was met groot opgewondenheid gedoen en foto’s van die kospakkies, rugsakke en stapskoene is oor en weer op WhatsApp gestuur.

Voortrekkers uit Walvisbaai, Swakopmund, Otjiwarongo, Windhoek en Gobabis het ingeskryf.

Die opgewondenheid was groot, maar toe ons die beginpunt nader, was daar baie kommentaar oor die grootsheid en hoogte van die roete. Dan besef jy hoe klein en nietig is ons in God se skepping.

Die aftog het ons 6 ure geneem, dit is baie steil en daar is baie los klippe wat kan afrol en die mense onder jou kan beseer. Onder het ons heerlik geswem, kamp gemaak en die jelliebene laat rus. Om die kampvuur is daar steak gebraai en kitspasta in varkpanne gemaak.

Die volgende 2 dae was rowwe terrein oor groot rotse, maar hiervandaan het die canyon oopgemaak en het dit al hoe makliker geword.

Op dag 2 het ons heerlik in die warm swaelbronne gebaai. Die natuurskoon is anders, dis ’n grootse wonderskoon in ongeloof. Ons het dassies, wildeperde, klipspringers, bergsebras, koedoes en baie bobbejane gesien. Ons het ook heelwat vars luiperdspore by water gesien. Dit was nogal ’n aansporing om bymekaar te bly.

Ons het elke dag kamp gemaak, dan is heerlike stapperskos opgedis en onder mekaar gedeel. Dan het ons om die vuur die Waardes-kenteken as aandgodsdiens gedoen. So in jou slaapsak, op jou rug, het ons vele satelliete gesien en weereens besef hoe bevoorreg ons is. Die kinders het wonderlik saamgewerk, mekaar ondersteun en moed ingepraat as die blase pla. Die kameraadskap onder die kinders was ongelooflik. Dit was mooi om die empatie en lewenslus onder die kinders te ervaar.

Ongelukkig op die tweede laaste dag is ’n bejaarde man oorlede en moes ons as groep by hom verbystap. Die kinders was stom en verslae, by die eerste koelteplek het hulle spontaan ’n kringetjie gemaak en gebid, en die Here gedank dat ons almal gespaar is en dat ons die genade van bo elke dag so mildelik ontvang het.

Die laaste oggend het ons half 10 uitgestap by Ai-Ais, waar die kinders heeldag in die warmwaterbronne gebaai het. Almal se wedervaringe is gedeel, en seer voete en blase is vergelyk. Dit was vir ieder en elk ’n persoonlik prestasie en oorwinning om die Visrivier-staproete baas te raak. Sal jy weer die roete stap? Ja, net as dit saam met sulke spesiale Voortrekkers is, anders nie.

Deur: Mildred van Wyk