Nasionale Offisieresaamtrek

deur Danie Langner

Dit is moeilik om die omvang en ervaring van Die Voortrekkers se eerste nasionale offisieresaamtrek in ’n paar woorde te beskryf. Die twaalf kursusse en nege kort verrykingskursusse deur 53 kundiges aangebied, was uitnemend en verrykend. Die fokus was spanhantering, noodhulp, kulturele leierskap, bergfiets, staptoere, kreatiwiteit, entrepreneurskap, digitale burgerskap en nog vele ander. Die konsert saam met Pieter Smith en nog ’n groter Afrikaanse legendekonsert saam met Anton Goosen en Sonja Herholdt was voortreflik, maar moenie vergeet van die heerlik kos en lekker saamkuier nie. Dit beskryf nog nie die atmosfeer van pannekoek, jafels, koffie, pap, wors, menige kampvuurtjies, innoverende produkte in die Voriemôl en melktert in die teetuin nie. Ook nie die gees wanneer Voortrekkers van Swakopmund tot Kaapstad, Komatipoort tot Upington eers vlam vat nie. In die Voortrekkers word vreemdelinge vinnig vriende en vriende kort voor lank familie. Hoekom? Omdat ons ’n liefde vir ons kinders, ons taal en kultuur, ons land en bo alles die Here deel. Dankie vir elkeen wat ver gery en hard gewerk het om ’n onvergeetlike en inspirerende vier dae moontlik te maak. Ons dien met hoop.