Noord-Kaap: Kalahari Vasbyt 2021

deur Susan Huxham en Lizle van Tonder

Wat ’n wonderlike ervaring in die Skepper se natuur tussen kameeldoringbome en Kalahariduine!

Die kamp het hierdie jaar ’n nuwe baadjie aangetrek as gevolg van Covid. Dit het te Duin-in-die Weg vakansieplaas plaasgevind.

Daar aangekom, is tente opgeslaan en na heerlike gevulde pannekoeke het almal na die lokaal vertrek vir ’n video wat die debat tussen ateïsme en Christene uitbeeld.

Vroeg die eerste oggend na ontbyt, gewapen met water, Bybel onder die arm en ons satelietkompasse, is die eerste roetes al dapper-stapper aangedurf. Hierdie jaar is twee spesialisasies aangebied. Vir Verkenners is Christelike Weerbaarheid aangebied en vir die graad 7-Voortrekkers is die Godsdiens (belofte spesialisasie) aangebied.

Die kentekenwerk is met behulp van vrae behandel oor 25 punte langs vyf roetes wat op ’n rotasiebasis geskied het.

Die laaste middag het die personeel van Duin-in-die-Weg onder leiding van Alie en Annemarie Brand die kinders op ’n kanovaart geneem. Dit is met ’n dankbare hart dat ons melding wil maak hiervan aangesien hulle dit gratis aangebied het vir die kinders.

Nieteenstaande die feit dat daar offisiere en kinders was wat kampe in ander gebiede en provinsies gaan bywoon het, was die kamp ’n reusesukses, en die feit dat die groepe kleiner was, het gemaak dat elke kind die spesialisasie deeglik onder die knie gekry het.

Ons kan nie wag vir 2022 nie, dalk kan ons Voortrekkerkinders weer ons voertuie deur die Kalaharisand navigeer.