Noordelike PD-kamp gly weer na Covid-19-uitbraak
deur Henk Lottering
Op 28 Mei 2021 het 84 jeuglede en 47 volwassenes in die beeldskone Duiwelskloof, buite Tzaneen, bymekaar gekom vir die Noordelike PD-kamp. Die gewilde glyklip het sterk gevloei en daar is lekker gegly ongeag die weer. Dis immers wat NPDK spesiaal maak.
Tuiniers (gr. 1) en Dierewaarneming (gr. 2) het ’n besoek gaan aflê by die plaaslike DBV en met die verskeie diere daar gespeel. Handwerk (gr. 3) was daagliks besig om aan hul handgemaakte projekte te werk. Die kampraad het elk ’n pom-pom-“wurm” gekry om op hul pette te dra.
Plantekennis (gr. 4) het die geleentheid gehad om die Botaniese tuine by Hans Merensky-museum te besoek. Oom Willie het hulle geleer van die verskeie plantsoorte, hul wortelstelsel en nog vele meer. ’n Miniatuur vlotresies is deur Touwerk (gr. 5) gehou na ure se knope knoop vir hul vlotte en horlosies.
Spoorsny (gr. 6) was daagliks uit in die woud, waar hulle geleer het van onder andere vermomming en hoe om spore te volg. Hulle was ook verantwoordelik vir die nagmars wat gehou is. Veldbewustheid (gr. 7) was bevoorreg om die pragtige watervalle te besoek en het ’n aand in die woud deurgebring.
Elke aand was gevul met ’n propvol program wat NPDK uniek maak – Mnr. en Mej. NPDK, kampvuurkonsert, nagmars en die massa fliekaand.
Die etes was weereens uitsonderlik en baie nuwe vriende is gemaak. NPDK is voorwaar ’n onvergeetlike kamp wat veral nuwe Voortrekkers en hul ouers, wat vir die eerste keer kamp, baie na aan die hart sal bly.