Noorkapperkamp laaste keer op Bettiesbaai
Op 30 September 2017, Die Voortrekkers se verjaarsdag, begin die laaste Noorkapperkamp op Bettiesbaai. Die laaste omdat, na 11 jaar se kamp op hierdie lieflike terrein langs die see, die terrein nou verkoop is en nie langer as ’n kampterrein verhuur gaan word nie.
Ons kamp vir oulaas met ’n groter groep as gewoonlik, ongeveer 70 jeuglede. Die offisiere is begeesterd en gemotiveerd vir hierdie laaste kamp en is reeds Vrydagaand op die terrein om alles gereed te kry vir die kinders wat Saterdagoggend arriveer.
Die kamp skop af met Voorslagevaluering. Oral is groepies Penkoppe en Drawwertjies besig om hulle Voortrekkerkennis en -vaardighede weer te gee. Teen Saterdagmiddag begin die wind so bietjie ruk aan die tente se wande. Teen Sondagaand is Voorslagevaluering afgehandel. Die kamp gaan nou oor na die volgende fase wanneer die Penkoppe en Drawwertjies hulle eerste Verkennerspesialisasie, Seekunde, doen.
Sondagnag begin die windsnelheid toeneem en vee die weermagtente plat waarin aanbiedings gedoen moet word, maar moeë kinders en offisiere slaap goed na die naweek se Voorslagevaluering.
Maandagoggend kom die son op oor ’n baie rowwe see. Die wind is baie sterk en die see oortrek met spreekwoordelike “wit perde”. In ’n baie duidelike ligstreep oor die rowwe see wat deur die donker wolke skyn, kry ons die boodskap van God se teenwoordigheid, ook wanneer dit moeilik gaan.
Maandag en Dinsdag waai die wind sonder ophou baie sterk. Twee keer word tente platgevee en twee keer word dit weer opgeslaan. Wind of nie wind nie – elke groep doen hulle besoek aan die rotspoele. Ook die besoeke aan die pikkewynkolonie en die oorblyfsels van die walvisstasie bly nie agterweë nie, al beteken dit die wind waai jou tot daar. Offisiere vertel daar was vanjaar baie meer pikkewyne op land as die vorige jare – lyk of hulle ook nie van die rowwe see gehou het nie en verkies het om op land te bly tot groot vermaak van hulle besoekers.
Die namiddagsessie elke dag is “maatskappy”tyd. Hiervoor het elke Penkop en Drawwertjie reeds voor die kamp gekies wat hy of sy in hierdie sessie wil doen. Daar is die groep wat vlieërs maak, die vuurtoringbouers, die groep wat fotografie doen, ’n groepie drawwertjies maak fotoplakboeke, nog ’n groep raak kreatief met handwerkartikels en ’n groterige sierdrilgroep oefen om hulle bewegings te verfyn vir ’n vertoning tydens Donderdagaand se dinee.
Die items tydens vanjaar se aandprogramme se tema, Afrikaanse kinderliedjies, sorg saans vir lekker vermaak en baie lag. Daar was onder andere die Lappop, Dapper muis, Pinocchio en Feëtjieland.
Donderdagaand sluit ons die kamp af met ’n lekker aansitdinee. Offisiere het hard gewerk aan die tafeldekor en regmaak van die saal. Op elke tafel pryk ’n papier vuurtoring met ’n liggie in. Nadat ons eers die vlieërbouers se vertoning buite gekyk het, sit ons aan vir ’n heerlike ete, terwyl die fotografiegroep se besondere foto’s vertoon word.
Vrydagoggend sluit ons na vlagstryking af met “Nou hou koers dan tot ons weer ontmoet….” Kinders kom groet, bly om hulle ouers weer te sien, maar ook hartseer oor ’n kamp saam met soveel nuwe maats en so baie nuwe ervarings wat nou verby is.
Die Noorkapperkamp se offisiere is dit eens. Ons wil steeds teen die kus ’n seekamp hou. Die soektog na ’n nuwe terrein begin nou. Volgende jaar kamp ons weer saam.
Besoek gerus die Noorkapperkamp se Facebookblad by Noorkapperkamp Graad 7 – Die Voortrekkers.
Deur: Elizma Smith