Nuwe kommando’s

Namibië: Brandwag kommando by Elnatan Privaatskool in Stampriet

Aan die begin van 2017 het ons begin met die harde werk van die stig van ’n nuwe kommando. Dit was gesprekke met die skoolhoof en direksie van die skool. Ouers wat genader word. Teen die einde van die jaar was die tyd ryp om Namibië se jongste kommando te stig. Op ’n warm Maandag oggend (die 20ste November 2017) word Brandwag Kommando gestig te Elnatan Privaatskool in Stampriet met vier offisiere en heemraadslede. Sedertdien het 83 ywerige blinkoog Penkoppe en Drawwertjies by die kommando aangesluit, tesame met 8 verkenners. Met groot opgewondenheid sien ons uit na ons eerste jaar as deel van die Voortrekkerfamilie.

Kaapland: Hemel-en-Aarde kommando in Hermanus

Wie onthou die eerste keer dat jy ’n tou in jou hande neem en daar ’n knoop gemaak word, of die eerste keer dat jy in ’n ry staan en moet sing vir kos, of die eerste keer dat jy aan ’n rêrige vlag kan vat en daarvan leer? Al daardie lekker grootoog nuwe goed is deel van ’n nuwe kommando stigting. Op 15 Junie 2017 is die Hemel-en-Aarde Kommando in Onrus, Hermanus gestig met ’n klein groepie geesdriftige kinders, ouers en offisiere. Ons oudste span was Graad 6, maar met ongeveer 70% van ons ouers wat Voortrekkers in hul laerskooldae was, opgewonde om vir hul kinders dieselfde ervaring geleentheid te gee wat hulle gehad het, het ons die res van die jaar aangepak. Tydens ’n touwerklessie het ’n nuwe ouer opgemerk dat sy lank laas kinders so gefokus op iets gesien het wat nie elektronies is nie. Van ons P/D’s het selfs ’n spesialisasienaweek of twee bygewoon, spanuitstappies gehou, ’n Kommando Pretdag en ’n tydren is gehou, en natuurlik was vuur en kos/stokbrood maak ook hoog op die lys. Ons is opgewonde oor ons eerste vol nuwe jaar wat voorlê en al die ander eerstes wat gaan gebeur en glo dat Hermanus en omgewing reg is vir Voortrekkers. Hemel-en-Aarde Voortrekkerkommando sien uit na 2018 en om Vorentoe te gaan!

Vrystaat: Reeboksbergkommando

Die kommando is amptelik gestig op 27 Oktober 2017 te Laerskool Clocolan. Die stigtingsaand was ’n reuse sukses, potjiekos, boeresport en stokbrood het alles bygedra tot die sukses. Die kommando het vinnig gegroei en vandag is die kommando 57 lede en 5 offisiere sterk en het ons alreeds twee kommandokampe bygewoon. Met baie positiewe offisiere en ouers se onbaatsugtige ondersteuning is die kommando sterk op dreef. Die kommando is onder leiding van OL Thian Heyns en AKL Ansunè Hayes en ons gaan vorentoe vir ons jeug. Ons het ook ’n baie entoesiastiese kommandojeugleier, Strauss Venter, en hy sien uit daarna om ’n voorbeeld te stel vir sy medelede in die kommando. Voortrekkers was ’n behoefte in ons gemeenskap en ons streef daarna om vir elke kind net die beste Voortrekkerervaring te bied.