Ons is 90 jaar oud!
deur Annekie Kern
In enige iemand se boeke is dit ’n prestasie – soveel te meer nog vir ’n jeugorganisasie wat geheel en al op ’n vrywillige basis bedryf word.
Ja, Die Voortrekkers, gestig op 30 September 1931, is 90 jaar oud. Ons kyk met dankbaarheid terug na 90 jaar van pret, avontuur, kamp, klim en klouter, waar vreemdelinge, vriende geword het en vriende ’n Voortrekker-familie geword het.
Dekades lank het Die Voortrekkers diep spore in soveel lewens getrap, leiers help vorm en kosbare herinneringe gebou. Hiervan kan elkeen getuig wat sedert 1931 betrokke was. Elke Voortrekkerkind dra in sy hart die liefde vir ons volk, ons land en bo alles, vir ons God. Hierdie onsigbare band weef ons vas in een groot mens-kombers wat oor die hele lengte en breedte van ons land en Namibië, ons koester in hierdie liefde en ons deel maak van ’n uitsonderlike groep mense.
Die Voortrekkers van Hartbeespoort het ook die heuglike gebeure saam gevier met ons jaarlikse “môl krôl” in die Village Mall winkelsentrum. Die pret het vir baie moeë kinders en nog moeër offisiere gesorg. Voortrekkerspanne is op ’n skattejag deur die sentrum gestuur, met kriptiese leidrade en baie energie. ’n Hele klomp verbaasde inkopiegangers het die petalje gade geslaan. Tot almal se verbasing het die Verkennerseuns met die prys vir die vinnigste tyd weggestap. Die Verkenners is die Hoërskoolleerders en word nie gewoonlik met aksie en spoed in een asem genoem nie. Die aand is afgesluit met heerlike eetgoed en daarna is almal huis toe, met baie stories oor die aand se pret. Nuwe herinneringe is gemaak.
Die beweging word vrywillig deur passievolle ouers bedryf en as dit vir jou na pret klink, dan is hierdie ’n ope uitnodiging om betrokke te raak. Ons glo dat ons die volgende dekade net van krag tot krag sal gaan. Die opbou na die GROOT 100 belowe om nog beter te wees as ooit tevore – en jy kan deel daarvan wees.
Voortrekkers leef voluit, diensbaar en dankbaar. Hartbeespoort Voortrekkers nooi jou uit om deel te word, met die woorde van die “Hou Koers” lied:
Hou Koers, Hou Koers
Deel die liefde vir ons land
Hou Koers, Hou Koers
Pluk die toekoms, vat my hand.