Oord Oosvaal Voortrekkers se eerste Bybelfakkelloop
deur Annelie du Plessis
Oord Oosvaal se Verkenners het saamgespan met Main SA se Endurance-groep vir ’n ervaring duisend! Die doel was om die 1913-uitgawe van die Duitse Bybel wat in Namibië aan Die Voortrekkers geskenk is, te gaan haal en ’n Tswana Bybel te laat saamtoer tot in Vryburg. Die fikses het die grootste gedeelte van die pad met drie skopfietse afgelê, terwyl party ander gedraf of gestap het. Dit was vir ons ook ’n leerskool in die beplanning van die Fakkeltoer vir die herdenking van die 200 jaar bestaan van die Bybelgenootskap in Suid-Afrika in 2020.
Op 18 Desember, na ’n gesellige oorslaap by Vryburg se Voortrekkerterrein, het die Voortrekkers koers gekies deur Kuruman waar die eerste Tswana Bybel deur ds. Moffat vertaal is. Die pad en uitsig wat nat was in Gauteng, het langsamerhand al droëer en dorrer geword hoe verder dit wes gekoers het. Dit het al warmer geword en die lywe agter in die twee voertuie het al slapper geword.
Die geografie-onderwyseres het foto’s geneem van die bergstrukture wat vreemd is in teenstelling met ons bekende Hoëveld. Die teerpad het stofpad geword en die bossies het in stoppels verander as gevolg van ’n langdurige droogte. Toe ons om ’n draai gaan, het ’n groot groen stuk aarde uit die niet sigbaar geword en soos ons nader gery het, het dit al groter geword. Die grootste dadelplantasie in die suidelike halfrond is soos ’n oase by Klein Pella en die 887 hektaar dadelbome staan hemelhoog. Die Vories het die Endurance-groep op Klein Pella ontmoet. Tente is opgeslaan en ons eerste ete saam was die berugte “pap en toppers”. Dit was nie sleg nie en na Bybelstudie het ons vroeg gaan slaap.
19 Desember het die Vories amptelik begin skop. Die eerste skof van 1 km was vol stof maar opwindend. Elke volgende kilometer het die bussie gestop en die skoppers is geruil. Die moeë, lam-been skopper kon rus tot dit weer sy of haar beurt was om verder te skop na sowat 6 km. Dié wat nie toe ’n skopbeurt gekry het nie, het by plase aangery waar hulle vir die inwoners gebid en bemoedig het. Mens en dier kry swaar in hierdie droë gedeelte van ons land.
Die groep het weer by die grootpad bymekaar gekom om groepe te ruil en die pad kilometer vir kilometer verder aangedurf tot in Pofadder. In Pofadder het almal die strate aangedurf en vir mense gebid in hulle werkplek en huise. Na middagete is ons deur tot in Kakamas waar ons tent opgeslaan het by “Die Mas van Kakamas”. Die groep was weer in dorp toe om ook vir Kakamas te bid en op te dra aan die Here.
20 Desember was die pad net te besig en omdat die skouer van die pad te nou was, skiet die voertuie deur tot in Keimoes. Weer word vir die boere en plaasgemeenskappe langs die pad tot in Keimoes se dorp gebid. Die groep was geseën met 7 BOKSE druiwe van vriendelike boere langs die pad. Elke plaas en gemeenskap het hulle eie uitdagings en struikelblokke wat hulle moet oorkom om die houertjie druiwe wat jy van die winkelrak afhaal, daar te kan sit.
Van Keimoes af is dit dan deur tot in Upington waar eers weer die dorp ingevaar is. Die verblyf vir die nag was die NG Kerk-saal en die vriendelike hotel op die dorp het vir ons stortgeriewe aangebied. Die kerkkombuis was baie ruim en ons kon die wors wat ons gekry het gaarmaak, genoeg vir aandete en om in te pak vir die volgende dag se middagete. Hoewel die dorp onlangs baie reën gekry het, is die plase steeds droog en smag die boere na reën.
Op 21 Desember laat die skoppers die pad gou-gou krimp. Die bakkie wat plaasbesoeke gaan doen het, het tweede gekom teen die sandbanke van die plaas en het bietjie hulp nodig gehad om weer op die pad te kom. Middagete was net buite Olifantshoek. Na Olifantshoek is daar padverleggings en word almal opgelaai om betyds in Kathu uit te kom. Die skaapstertjies vir aandete is ’n nuwe ervaring vir die meeste van ons. Dankie vir die vriendelike abattoir wat dit vir ons geskenk het en al die hande wat in die kombuis gehelp het. Daar was ook taamlike herstelwerk aan die skopfietse nodig sodat ons die volgende dag al drie fietse kon gebruik.
Vir die laaste dag wat geskop word is ’n rekord van 110 km is vir die dag opgestel. Ons het darem bietjie hulp gehad, want so 50 kilo’s voor Vryburg het Vryburg se Voortrekkers by os aangesluit met twee bakkie-vragte vol mense wat twee-twee saam geskop en gedraf het. By Vryburg is ons Noord-Kaap-roete voltooi en is die Bybels aan Elaine Strauss oorhandig wat dit Juliemaand vir ons weer sal saambring na ons monumentopening.
Baie dankie aan Sakkie Fourie en MainSA dat ons saam met hulle kon toer. Ook aan al die kerke en plekke waar ons oorgeslaap het en aan elkeen wat langs die pad kos voorsien het sodat dit moontlik kon wees. Dankie ook vir die Endurance-span en Voortrekkers wat dit ’n ongelooflike belewenis gemaak het.
Baie dankie aan ons Hemelse Vader wat vir ons hierdie geleentheid gegee het en ons veilig gehou het.