Oos-Londen-kommando diensbaar by Silver Crown Ouetehuis
deur Sanet Vosloo
Met die jaar wat skaars begin het, het ons besluit om op versoek ’n groentetuin aan te lê by Silver Crown Ouetehuis wat bejaardes en gestremde bejaardes huisves. Met Februarie wat die maand van liefde is, het ons baie liefde om te deel met 37 bejaardes wat hier woonagtig is.
Dit was ’n groot taak wat vir ons voorgelê het. ’n Stuk grond met gras en bossies gevul, moes omskep word in ’n groentetuin.
Die Voortrekkers het hande gevat met drie ander instansies om hierdie projek moontlik te maak. Solidariteit Helpende Hande Jeugtak, Leading Financial Services en ook Slumtown Owners Club was behulpsaam om die sukses te kon bereik.
Die gras en onkruid is uitgespit om die area skoon te kry. Beddings is afgemeet en uitgelê. Die jeug van Die Voortrekkers en Solidariteit Helpende Hande het die harde arbeid vir ons behartig. Na 15 sakke hoendermis en al die nodige beenmeel en chemikalieë in die grond ingewerk is, was die tuin gelaat om te “rus” vir vyf dae.
Daarna op ’n lieflike reënerige dag, wat net reg was vir plant, is al die beddings weer omgespit. Groente- en kruieplantjies is by ’n plaaslike boer aangekoop. Altesaam nege beddings is gevul met spinasie, kool, sprietuie, soetrissies, wortelsaad, boontjiesaad, blaarslaai, beet, koljander en basiliekruid. Met ’n paar stink Afrikaner-plantjies tussenin om die goggas en wurms van die plantjies weg te hou.
Dit was ’n groot leerproses vir die jeug om te sien wat dit alles behels om net ’n paar stukkies groente van jou eie land af te kan oes. ’n Tuinslag, graaf, spreiers en klein implimente is geskenk om hulle in staat te stel om die groentetuin in stand te hou.
Die jeuglede wat betrokke was, is Deidre du Preez, Deandré Jacobs, Jana Fourie, Liesel Dreyer, Erik Spies en Corné Vosloo.
Ons leer ons jeug om diensbaar te wees en met ’n goeie hart en gesindheid liefdadigheid aan ander te bewys.