Op Wilgedraai is elke dag ‘n avontuur!
deur Elseri Venter
Wilgedraai Voortrekkerkamp is die ideale geleentheid om bietjie weg te breek van die gejaag van die stad af en vir ’n week lank in die rustigheid langs die Vaaldam te verkeer. Wilgedraai verskaf uitsonderlike blootstelling vir die Afrikanerjeug op verskeie gebiede. Die meerderheid van die kursusse wat aangebied word, fokus op waterbeveiliging en spanwerk, en alhoewel die kentekens soms uitdagend kan wees, is die pret steeds onstuitbaar.
Wilgedraai het tien divisies, elk op sy eie unieke manier saamgestel om jou vaardighede te ontwikkel en die beste weergawe van jouself te ontdek.
Oewervernuf word vir graad 7’s aangebied as hulle intreekursus tot Verkennerwees. Daaropvolgend is Varswaterkunde die graad 8’s se eerste amptelike Verkennerkursus op Wilgedraai.
Wilgedraai het agt ander divisies wat deur verskeie grade geniet word: Roeikunde, Varswaterhengel, Seilkuns, Kampmedia, Ruiterkuns, Selfbehoud, Motorbootkunde en Vaandrigte bied elk sy eie ontdekkingsreis aan – óf dit nou in die bos is, soos Ruiterkuns, en óf dit waterwerk soos die res is.
Nie net ontwikkel Wilgedraai jou vaardighede nie, maar dis ook die ideale plek om jou eiesoortige karakter te ontdek. En watter beter plek is daar nie om dit te doen nie, as in die natuur omring deur jou vriende, wat later familie word.
Verkenners sien jaarliks met ’n blye vooruitsig uit vir Wilgedraai om aan te breek en smag na die rus en vrede langs die Dam en ook die onvergeetlike ervarings wat daarmee saamkom.
By Wilgedraai is almal welkom, en word Verkenners bemagtig om ’n beter toekoms vir hulself, en hul medemense tot stand te bring.
Die belangrikste van als: Wilgedraai Voortrekkerkamp is die kamp waar jy jouself kan wees!