Paarl Voortrekkers word 85
Paarl Voortrekkers het op 19 Mei 2017 hulle 85-jarige verjaarsdagherdenking met ’n heerlike reünie van oud- en huidige lede van die Paarl-kommando gevier. Dit het plaasgevind op die plaas Fraaigelegen, ’n geskiedkundige plaas, net buitekant die Paarl.
Die geleentheid is deur 107 gaste bygewoon. ’n Gesellige atmosfeer is geskep met ’n smaaklike ete, heerlike plaaslike wyn en sap, asook dansmusiek deur Pieter en Eben, wat die voete behoorlik laat jeuk het.
Ons was bevoorreg om die oudste oorlewende lid van die kommando, Tannie Miempie Carstens (86), asook die oudste, steeds aktiewe lid, tannie Francionette van Zyl (81, Erelid van Die Voortrekkers en steeds aktief betrokke by Kommando- en Gebiedskampe, met 55 diensjare agter die rug ), teenwoordig te hê.
Ons Hoofleier, Danie Langner het ’n pragtige Hoofleierstoekenning aan Paarl-kommando oorhandig. Verder is die geleentheid ook bygewoon deur Gebiedsleier Jan Palm en sy gade, asook AGL Constantine Varley en sy gade. Verder was daar ook ’n paar lede van die FAK teenwoordig.
Dit was vir die reüniegangers heerlik om mekaar weer, na die verloop van tot 30 jaar, te siene te kry. Die laaste gaste het tot lank na middernag nog heerlik gesels en baie traag die saal verlaat.
So tussen die geregte se bediening is daar ook ’n baie geslaagde klein wynveiling gehou. Slegs agt baie skaars en hoë kwaliteit bottels wyn is aangebied en dit het ’n baie lewendige en humoristiese bieëry tot gevolg gehad.
Ons wil al ons gaste en ondersteuners baie hartlik bedank vir ’n baie geslaagde funksie. Tydens en na die funksie het ons ongelooflike donasies ontvang. Dit het ons oorweldig.
Ons as Kommando dank die Here vir 85 wonderlike geseënde jare en ons glo en vertrou dat ons vir nog baie jare ’n voortreflike diens aan die jeug van die Paarl sal kan bied, indien ons in Sy Spore volg.
Die Voortrekkers, Paarl het ’n pragtige geskiedenis wat deur baie hoogtepunte gekenmerk is – eintlik te veel om op te noem.
Kortliks opgesom:
21 April 1932 Stigtingsvergadering met eerste Kommandant Mnr Stirling Low
23 Mei 1932 Amptelike registrasiedatum (Met registrasienommer Distriksbestuur No 17)
19 Mei 1933 Eerste Offisiere en Jeuglede word ingelyf (57 seuns en 56 dogters)
Die eerste spanbyeenkomste is buite op die grasperk voor die ou OKP-gebou (tans die Polisie
Opleidingsentrum) gehou.
Later verskuif dit na ’n waenhuis en toe na die Wamakersgebou in Dwars-in-die-Weg.
1937 en 1938 Die Sirkus Konserttoer
24 Jan. 1941 Aankoop van eerste eiendom as Kommandospankamers in Markstraat (tans is Sars se
gebou op die perseel)
5 Sept. 1960 Betrek rondawels op Komaan (gehuurde terrein)
10 Okt. 1960 Inwyding van die terrein
10 Nov. 1978 Ingebruikneming van die saal op Komaan
Ander Hoogtepunte
1938 Deelname aan Fakkelloop en bywoning van Eeufeeskamp tydens die hoeksteenlegging van die
Voortrekkermonument.
Des. 1949 Inwyding van Voortrekkermonument
Apr. 1952 Van Riebeeckfees, Kaapstad
Mei 1960 Uniefees, Bloemfontein
1975 Fakkelloop tydens Inwyding van Taalmonument
2015 Fakkelloop tydens 40-jarige verjaarsdag van Taalmonument
2016 85-jarige fees by Taalmonument. (Pieter Scheepers, KL Paarl, reël die vlag- en inlywingseremonie)
Mei 2017 Paarl 85 jaar Reünie
25 Mei 2017 Kerkparade in Toringkerk tydens die Hemelvaartdiens as deel van die 85 Reüniefees.