Parys vier 85 jaar

Parys Voortrekkers het op 6 April met ’n stylvolle, lekker kuier- en spogfunksie, en heerlike spitbraai feestelik hulle 85ste verjaarsdag gevier. Sedert 1934 lê hulle kultuurspore diep getrap langs die oewers van die Vaalrivier.

Parys Voortrekkers het as deel van hulle verjaarsdag ’n splinternuwe embleem onthul en gedenkboek bekendgestel. Die gedenkboek vertel ’n verhaal van ’n gemeenskap se kulturele diepte. Hulle pad loop oor dekades verby groot historiese gebeure soos die Simboliese Ossewatrekke van 1938 en 1988; die inwyding van die Voortrekkermonument in 1949; die Taalfees van 1975.

Voortrekkerspanne het met pennie-aande en dienswerk fondse ingesamel vir ’n boomlaning in Parys, die verskuiwing van Kruger-standbeeld in 1954 en die oprig van verskeie plaaslike Afrikanermonumente. Geslagte kinders se kulturele identiteit is hier met liefde en toewyding gevorm. Dit gebeur vandag steeds.

Die kulturele diepte van Parys Voortrekkers word ook gesien in oom Stephan en tannie Susan Rossouw wat ’n toekenning vir onderskeidelik 65 jaar en 55 jaar diens ontvang het – 120 jaar se jeugdiens in totaal! Watter voorbeeld en inspirasie.

Baie geluk aan tannie Dawn Rall en Parys Voortrekkers met ’n heerlike dag. Dankie vir dekades wat verby is en die entoesiasme waarmee julle na die volgende 85 feesjare uitsien.

O ja, Kuifie sê hy het ook baie lekker gekuier.