Presidentsverkenners, ons trots!
deur Danie Langner
Gedurende die eerste drie dekades sedert Die Voortrekkers in 1931 ontstaan het, was daar nie ’n Presidentsverkennertoekenning nie. Dit is eers kort na Republiekwording in 1961 dat die gedagte die eerste keer geopper is om aan uitnemende matriek-Voortrekkers erkenning te gee. Na die trauma van die Anglo-Boereoorlog en die gevolglike verlies van die Boererepublieke was die totstandkoming van ’n nuwe Republiek met ’n eie staatspresident, onafhanklik van Brittanje, die ideaal waarvoor geslagte Afrikaners, ook Die Voortrekkers, geleef en gewerk het. Dit was vir Die Voortrekkerleiers net logies dat die Republikeinse ideaal geanker sal wees in die naam van hoogste prestige-toekenning aan ’n jeuglid, naamlik Presidentsverkenner. Dit was vir Die Voortrekkers ook ’n besondere voorreg dat die eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika, CR Swart, ’n Voortrekker in murg en been was. Oom Blackie was in die dertigerjare lid van die Vrystaatse dagbestuur, het gehelp om Doornkloof te koop, was die hoofbeskermheer en besonder lief vir kinders. Die eerste PV-kamp het van 3-9 Januarie 1967 vir 383 Verkenners by die Fonteine in Pretoria plaasgevind, waarvan 81 Verkenners die Presidentsverkennertoekenning vanaf oom Blackie ontvang het. In 1970 het die hoofbestuur die Hoofleierswagtoekenning goedgekeur om ook erkenning te gee aan die harde werk van die jeuglede wat nie die Presidentsverkennertoekenning behaal het nie.
Die Presidentsverkennerproses het oor dekades verskeie ontwikkelingsfases beleef waarvan leierskap die goue lyn was. In kort moes ’n voornemende Presidentsverkenner ’n nasionale vraestel slaag (in ons dae was dit ’n 3-ure skriftelike vraestel), getuigskrifte van kerk, skool en kommando indien, ’n volkstrots-taak uitwerk, ’n toespraak oor ’n aktuele saak navors en lewer en ’n toetskamp bywoon. Nie enige Voortrekkeroffisier kon ’n toetsoffisier op ’n PV-kamp wees nie. Toetsoffisiere is met die hand uitgesoek en was meestal hoofbestuurslede. Op die toetskamp moes kandidate hulle volkstrots-taak verdedig, rekenskap gee oor sake van die dag en standpunt inneem oor verskeie omstrede onderwerpe. Praktiese Voortrekkerwerk is getoets met vlagparades, sang, speletjies, touwerk, kaart en kompas. Wat ek van my PV-kamp onthou is hoe oom Theuns de Wet, destydse Transvaalse gebiedsleier my oor volkstrots gepeper het en hoe koud dit was om in die dun bruin uniform op en af op Hartbeesfontein se paradegrond te dril. ’n Presidentsverkenner was nie net van ’n beurs op enige Afrikaanse universiteit nie, maar in die dae van verpligte diensplig ook van ’n offisiersrang verseker. Jong leiers in diens van die Afrikanerrepubliek.
In die geel bladsye van ou notules is dit duidelik dat die vereistes waaraan ’n voornemende Presidentsverkenner moes voldoen dikwels tot hewige debatte op kongresse en laatnag hoofbestuursvergaderings gelei het. Sommige wou dit makliker maak, ander wou jeuglede nog strenger toets. Die onderskeid tussen ’n Presidentsverkenner en Hoofleierswag was eintlik van die heel begin af ’n brandpunt en seerpunt in Die Voortrekkers, maar met die draai van die eeu het dit akuut geword. Hiervoor is daar baie redes. Die afskaffing van apartheid, die demilitarisering van die burgerlike samelewing, die regeringsverandering in 1994 en vele ander faktore het geleidelik groot veranderinge onder Afrikaners en in kultuurorganisasies soos Die Voortrekkers teweeg gebring. Op die oppervlak was veranderinge sigbaar in nuwe Voortrekkerdrag, die ontstaan van die ABC, die hantering van nuwe nasionale simbole en lidmaatskap. Onder die oppervlak het Afrikaners se fokus begin skuif van staat na gemeenskap, van staatsdiens na entrepreneurskap, van sanksies en isolasie na globalisering en regte. Boonop is kinders se wêreld vandag veel meer ingewikkeld, onseker en selfs gevaarliker as toe ons kinders was. Dit is ’n artikel op sy eie. ’n Strak hiërargiese en protokolgedrewe struktuur wat van bo-af dikteer, het miskien in die sewentigs en tagtigs uitstekend gewerk, maar werk nie meer vir moderne entrepreneuriese Afrikaners nie. Afrikaners is vandag baie meer ontspanne oor protokol, laat hulle nie sommer voorskryf nie, wil graag eie inisiatief neem en hou van keuses waaroor hulle self mag besluit. Ook Afrikaners se siening van leierskap het sedert die draai van die eeu geleidelik van sterk politieke en militêre leiers na diensbare en verhoudingsgerigte gemeenskapsleiers verander. Die Voortrekkers moes hierby aanpas. Voortrekkerkommando’s, gemeenskappe en ouers het al meer en hewiger beswaar begin maak teen die toetskampmodel. Dit is net nie meer so maklik aanvaar dat ’n klein groepie mense wat nie ’n kind ken nie, besluit oor die kwaliteite van hul Christenskap, Voortrekkerwees en leierskap.
Sedert 2014 het Die Voortrekkers geleidelik begin om ’n proses te implementeer wat die prestigewaarde van die Presidentsverkennertoekenning steeds bevestig, maar ook in pas is met nuwe werklikhede van die 21ste eeu. ’n PV-keuringsmodel is geïmplementeer waar Voortrekkerkommando’s en gemeenskappe self verantwoordelikheid neem om te bepaal of ’n kandidaat ’n Presidentsverkenner is of nie. ’n Groter fokus is op die Voortrekkerloopbaan geplaas met ’n deurlopende ontwikkeling van waardes, vaardighede en die evaluering daarvan. Hiervoor is ’n nuwe Verkennerlewe geskryf en ook aanlyn kentekens ontwikkel. Jeuglede wat wil deelneem aan die PV-proses moet ’n sekere aantal gebiedskampe bywoon en spesifieke ABCD-kentekens doen. ’n Nasionale vraestel word steeds geskryf en moet deurgekom word. Vanjaar se vraestel was moeilik. Ek het probeer en kon nie volpunte behaal nie. Die fokus het stelselmatig van ’n toetskamp na ’n toerustingskamp geskuif om jongmense blootstelling te gee aan ’n verskeidenheid intellektuele perspektiewe, leierskapsafronding en toerusting met sosiale en praktiese vaardighede wat hulle op universiteit en die werksplek nodig gaan hê. Tegnologie het nuwe horisonne ontsluit om vraestelle aanlyn te skryf, inhoud nasionaal te standaardiseer en jeuglede ’n groter blootstelling te gee aan ’n veelvoud inspirerende leiers oor verskeie samelewingsterreine.
As gevolg van Covid-19 kon die PV-kamp in 2020 die eerste keer in 55 jaar nie plaasvind nie. Voortrekkers maak ’n plan en het ’n eerste nasionale PV-webinaarkamp aangebied. Die inhoud van 2020 se webinaar met 16 sprekers van regoor Suid-Afrika wat wissel van politiek, ekonomie, maatskaplik, media tot die vermaaklikheidsbedryf was die beste in die geskiedenis van PV-kampe. Dit was ook die goedkoopste kamp ooit. Anders as in die verlede was daar ook ruimte vir PV-kandidate om die webinaar ook later te kyk as die datum ’n probleem was. Vanjaar word weer ’n PV-webinaarkamp met uitstekende inhoud aangebied met ruimte vir spanne, kommando’s en oorde om hulle eie sakpas PV-kamp teen ’n fraksie van die koste van ’n nasionale kamp te reël.
Vandag is dit nie nodig om hoofseun te wees, goed te dril of redenaars te wen om ’n Presidentsverkenner te wees nie. Vir Die Voortrekkers is elkeen wat verantwoordelikheid aanvaar en sy plig doen ’n leier in eie reg. As ek op sosiale media die trots waarmee ons Presidentsverkenners hulle Voortrekkerbaadjies vol kentekens dra, sien, na hulle entoesiasme luister, van letterlik honderde diensbare projekte lees en ABCD en KAN-taal hoor, voel ek ongelooflik trots op elke Presidentsverkenner. Die Voortrekkers doen steeds sy plig om topklas en beginselvaste jong Afrikanerleiers aan die Republiek as toekomsbouers te gee.