Quo Vadis/ Waar gaan jy?

Die jaar het net te vinnig afgeskop met té veel onsekerhede, uitdagings en verrassings (goed én sleg). Daar is deesdae meer vrae waarvoor daar min, of weinig, antwoorde bestaan. Hoe gaan Donald Trump, nuutverkose president van die Verenigde State van Amerika, se buitelandse beleid ons ekonomie in Suid-Afrika beïnvloed? Gaan Brexit vir ons positief of negatief wees? Hoe kies ek ’n universiteit waar ek veilig kan klasdraf en eksamen skryf, in ’n taal van my keuse? Gaan ek as Afrikanerkind toelating tot ’n universiteit in my land verkry? Hoe verduidelik ek aan my internasionale vriende en familie hoe politiekery in my land gereduseer is tot grootskaalse korrupsie en ’n totale minagting van dít waarvoor ons Grondwet en Parlement staan? Hoe berei ek myself voor vir my toekoms en vir my land se toekoms?

My ma het altyd gesê: “As jy hopeloos voel omdat jy geen beheer oor gebeure en realiteite het nie, neem beheer van dít wat jy wel kan verander.” Laat jou geloof, kultuur en waardestelsel jou morele kompas raak vir die pad wat jy daagliks na jou toekoms stap. Omring jou met mense met ’n positiewe ingesteldheid, wat jou omhoog sal hou as jy sukkel om verder te stap. Daar is min dinge wat mens só goed laat voel as om iemand te help wat nie daarvoor vra nie. Wees daagliks oplettend en soek geleenthede om ’n positiewe verskil te maak in mense en in jou omgewing.

My persoonlike leuse is: “Passie + Harde Werk + Gesonde Verstand + Omgee = Sukses”.

Ek wil julle laat met ’n uittreksel uit Rian van Heerden se artikel in die Beeld, Saterdag 18 Februarie 2017, getiteld “Meer ‘dignitas’ nodig en minder skolliegedrag”.

“Dignitas is Latyn vir waardigheid. Waardigheid is ’n staat waarin ’n mens verkeer waarin jy eer of respek waardig is. Die beeld van die Japanese nasie wat ná Hirosjima, Nagasaki en Foekoesjima herbou sonder om in selfbejammering vas te val, kom altyd by my op.”

Mag 2017 ’n jaar wees wat jou stoutste verwagtinge oortref. Hou koers!

Deur: Sonja Lombard