Reddingsboei vir Dapperheid
deur Seugnet van Zyl
Meer as 50 jaar nadat ’n dapper seun sy pa se lewe tydens ’n skibootongeluk in Mosambiek gered het, is die Reddingsboei vir dapperheid-toekenning aan Herman Steyn die afgelope naweek oorhandig.
Dié toekenning vir dapperheid word in Die Voortrekkers slegs oorhandig aan ’n lid wat sy eie lewe in gevaar gestel het om die lewe van ’n ander persoon te red.
Steyn (toe 12) het gedurende die Desember-skoolvakansie in 1967 sy pa, dr. Hermanus Gerbrand (Herman) Steyn se lewe in ’n skibootongeluk in Savora, Mosambiek gered. Hulle het ongeveer 1 kilometer in die see visgevang toe hoë golwe die boot omgeslaan het. Al drie vissermanne, waaronder Steyn en sy pa en ’n familievriend, Philo de Villiers, was sonder reddingsgordels of enige reddingsapparaat.
De Villiers het aan ’n petroltenk vasgeklou en het na die strand geswem. Die boot het onderstebo op die strand uitgespoel.
Steyn se pa se skouer was tydens die ongeluk ontwrig en sy bene in die warboel van vislyne verstrengel. Hy was nie in staat om homself te help nie. Ten spyte van ’n harde hou teen sy kop het Steyn sy pa tussen die hoë golwe bly soek totdat hy hom gevind het. Hy het met behulp van ’n drywende binneband sy pa met ’n groot gesukkel tot op die strand na veiligheid gehelp.
Die Hoofbestuur van Die Voortrekkers het die Reddingsboei vir dapperheid-toekenning op 31 Oktober 1969, na aanleiding van verklarings van ooggetuies, goedgekeur.
Hoewel die Reddingsboei-toekenning in 1969 deur die Hoofbestuur goedgekeur is, is dit nooit formeel aan Steyn oorhandig nie. Die brief met die toekenning het blykbaar iewers in die pos verlore geraak en eers by Parys Voortrekkers uitgekom. Eers met die regpak van die argiefmateriaal met die oog op Parys Voortrekkers se 85ste fees die afgelope naweek het hulle weer die vergete koevert ontdek.
Dr. Danie Langner, Hoofleier van Die Voortrekkers, sê dit was ’n onbeskryflike voorreg gewees “om 52 jaar, ná die dapper daad die Reddingsboei formeel aan oom Herman (Steyn) te oorhandig”.
“Herman se pa kon Desember 1967 in Mosambiek gesterf het. As gevolg van Herman se dapper optrede het hy nog 37 jaar geleef en is eers in 2004 oorlede.
“Hierdie is nie net ’n verhaal van moed en dapperheid nie, maar ’n getuienis van ’n seun se liefde vir sy pa,” sê Langner.
Steyn (63), nou afgetree en woonagtig in Montanapark, Pretoria, sê dit was vir hom ’n baie emosionele ervaring gewees om dié toekenning te ontvang.
“Jy dink weer terug na wat destyds gebeur het. Dit was baie nostalgies, want albei my ouers is reeds oorlede. Dit is een van die hoogste toekennings wat ’n Voortrekker kan kry. Ek is baie dankbaar.”
Hy sê ná die ongeluk het hy en sy gesin oorspronklik van Parys jaarliks steeds na Mosambiek teruggekeer.
“Ons is baie lief vir Mosambiek.”