Rhus keeti 2018 – “Ons praat jou taal, digitaal”

Rhus keeti 2018 “Ons praat jou Taal, Digitaal” was weereens ’n groot sukses vol pret en avontuur, waar ons speel terwyl ons leer. Een van ons nuwe kursusse, Digitale Kommunikasie, het ons jeug geleer om op ’n verantwoordelike manier ’n digitale spoor te los. Selfs ons snoepie het hierdie jaar handel gedryf met kripto-geldeenheid, beter bekend as die “Rhusblah”. So het ons eerstehands ervaar hoe mediadekking en skommelinge van daaglikse gebeure, die wisselkoers binne minute kan beïnvloed en jou aankoopprys sodoende verhoog of verlaag.

Wat die kospotte aanbetref, het Janco by Jag en Wildbeheer se kursus gesorg dat die kamp Vrydag ’n heerlike blesbokpot kon geniet. Pikkie en Maryke by Rotsklim het nog ’n eerste vir Rhus keeti, toe hul ’n “multi pitch” uitgevoer het. As jy wonder wat dit is, kom skryf gerus in vir 2019, dan leer ons jou meer daarvan. Verfbal se “Slag van Majuba” wat in gietende reën uitgevoer is, het gesorg vir heelwat pret, terwyl Ruimteselfbehoud suksesvol was in hul soektog na Planeet X. Die 4×4-manne en dames het heelwat uitdagende roetes ontdek, terwyl Sterrekunde op ’n wolklose nag, sterre en planete kon bestudeer. Fotografie was belaai met kreatiwiteit en talent, en so tussen die speel deur, het hul uitstekende foto’s vir ons album voorsien.

Veldvernuf se geesdriftige groep het geleer om alleen in die veld te oorleef, terwyl Kampbeveiliging bewys het dat met goeie opleiding, jy ’n kamp kan beveilig al is die hande min. Om so ’n suksesvolle kamp te beskryf, sluit ek aan by Gevorderde Boogskiet as hul die kursus beskryf as ’n konstante vrolike gebabbel en avontuur, waar elke mylpaal behaal, gekenmerk word met ’n gekleurde pyltjie aan jou hoed. Rhus keeti, al jou kursusse was beslis ’n veertjie in jou hoed!

deur Esther Visser