Rhus Keeti het die X-faktor

deur Esther Visser

Rhus Keeti Avontuurkamp 2019, se tema was nie verniet “X-faktor” nie. Elke besoeker getuig dat Rhus Keeti dit verseker met die pas afgelope gebiedskamp van 23-30 Maart 2019 gehad het.

Ons parate Kampbeveiliging het gesorg vir veiligheid. Hul deeglike opleiding om verskeie insidente te hanteer, het elkeen met gemoedsrus gevul. Die onbesoedelde lug het bygedra tot Sterrekunde se suksesvolle aanbieding en gretige oë het deur teleskope na God se skeppingswerk gestaar.

Verfbal was baie gewild, alhoewel die uitbeelding van die Slag van Majuba tussen Boer en Brit nie heeltemal was soos geskiedenisboeke dit beskryf nie, aangesien die vyf “Britse soldate” die 19 “Boere” oorwin het …

Die X-faktor van Rhus Keeti het ook heelwat besoekers gelok, so het dr. Danie en tannies Elizma en Corlia van hoofbestuur, saam met Kuifie besoek afgelê om deel aan ons avonture te hê.  Kuifie het by Gevorderde Boogskiet gekuier, waar hy gewys is hoe om met ’n pyl en boog te skiet, terwyl die Fotografie-groepie, gretig aksiefoto’s geneem het. Hierna het Kuifie besluit om saam Bergfiets op al die mooi roetes van die omgewing te gaan ry. Sy vaardighede is eers binne die kampterrein getoets, maar ongelukkig het hy ons vlagpaal getref, en is besluit dat hy liewer vir eers te voet sal gaan waar hy wil wees.

Ons Veldvernuf-spannetjie het vir tannies Zandra en Anita van die Transvaalse Gebiedskantoor, gewys hoe goed hul ingerig is om in die veld te bly. Oom Chris het die nuwe kampleier, Charl gewys om klippe te kap vir vlymskerp punte, wat gebruik kan word in byvoorbeeld mespunte.

Die 4×4-span het verskeie roetes in die omgewing aangedurf om hul vaardighede te toets. Hul was deel van die span wat ons besoekers vanuit Namibië, die Vrydagaand voor die kamp op die donker grondpad ingewag en kamp toe begelei het. Die groepie Verkenners van Namibië, het Donderdag 21 Maart om 4:00 al uit Swakopmund vertrek, en het ons gewys hoe toegewyd hulle en hul ouers is om ’n Voortrekker te wees. Dit was lekker om tydens vlagseremonies beide Suid-Afrika en Namibië se nasionale lied te sing.

 

Rotsklim het ook nie teleurgestel nie. Nie alleen het hul geleer om teen rotse op te klim en teen kranse af te seil nie, maar het ook as fasiliteerders by die abseil-punt gehelp.  Voëlidentifisering het ’n belewenis van helder kleure en unieke klanke van verskeie voëlsoorte, in hul natuurlike habitatte van die omgewing ervaar.

Jag en Wildbeheer het suksesvol het bokke kon skiet en so is gesorg dat die kamp Vrydag met ’n heerlike wildspot kon afsluit.

As ’n opname gemaak word of elkeen op Rhus Keeti dit geniet het, sal die resultate ’n oorweldigende  “JA!” wees.

Vir verdere foto’s besoek gerus https://drive.google.com/drive/mobile/folders/19TdmnoqAR29t4VVDvhd83QMMA-Yy-gfZ?usp=drive_open