Senior Hanekam kamp
deur Ilse Ferreira
Die Oos-Kaap se graad 4- tot 7-Voortrekkers het hulle Junie-skoolvakansie afgesluit met ’n kamp by die Van Stadenskloof-kampterrein naby Port Elizabeth. Dit was ’n naweek vol pret en avontuur, terwyl ons speel-speel meer geleer het van ons land se ryke geskiedenis. Die graad 4’s het meer van die Groot Trek geleer, miniatuur ossewaens gemaak en gesorg dat die hele kamp bederf is met lekker warm melkkos, tradisioneel aan daardie tyd. Die graad 5-“Delwers” het weer meer geleer oor diamante en die ontdekking daarvan en selfs hul eie Delwersdorpie gebou. Die Anglo-Boereoorlog was vir die graad 6-jeuglede baie interessant terwyl hulle meer hieroor geleer het, en Saterdagaand voor slaaptyd, het Boer en Brit mekaar wraggies weereens uitgedaag en is daar lantern bekruip tot laatnag. Die graad 7’s het Afrikanerkind gedoen, kennetjie en jukskei gespeel, idiome deur stomstreke geleer en toe oorgegaan na ernstige besprekings oor die toekoms van Afrikanerkinders in Suid-Afrika.
Behalwe vir die al die harde werk en baie leer, was daar ook genoeg opwinding tydens die kamp. Vrydagaand het die Staatmakers vir ons ’n Nagavontuur aangebied wat nogal groot pret was vir oud en jonk. Saterdagaand het ons lekker om die kampvuur konsert gehou waartydens elke graadgroep twee items moes opvoer. Die eerste item moes handel oor iets wat hulle die naweek geleer het, terwyl almal van ons later die aand, voor aandgodsdiens, stil geword het en na elke groep se geestelike opvoering gekyk het.
Die graad 7’s het Saterdagaand die geleentheid gehad om te help met die eerste wagstaanbeurt. Teen middernag het hierdie vervelige wagstaanbeurt natuurlik ontaard in ’n reddingsoperasie. Stormwinde het ons kampterrein getref, en selfs die weermagtente kon nie teen die rukwinde staande bly nie. Die graad 7-groep was gelukkig wakker en kon vinnig hulle tentjies, wat onder die een Weermagtent opgeslaan was, afslaan, terwyl offisiere moes klou aan tentpale om te keer dat die betrokke Weermagtent op die klein tentjies val. Daarna het die graad7’s gehelp om die 2 groot Weermagtente af te slaan, voordat hulle uiteindelik kon gaan inkruip. Hulle tydsberekening was perfek, want kort nadat hulle gaan inkruip het, het dit hard begin reën. Sondagoggend is daar natuurlik met groot opgewondenheid vertel (en so bietjie spek geskiet) dat die lang Oos-Kaapse droogte die vorige nag gebreek is weens al die reën en dat offisiere so paar keer ’n graad 7 of twee teen “Lady Slipper”, ’n berg in die omgewing, moes gaan haal. Daar is ook vertel dat verlore tente en ander goedere aan die eienaars terugbesorg sal word, sodra lede van die gemeenskap wat in die omgewing woon, dit na die kampterrein terugbring. Die graad 7-groep sal verseker hierdie nag se avontuur nog vir baie lank onthou.