Somerset-Oos Voortrekkers is bedrywig

Junior Hanekamkamp

Somerset-Oos Voortrekkers het  op 27 en 28 Mei 2017 die Jnr Hanekamkamp te Van Stadenskloofterrein bygewoon.  Hierdie kamp is vir alle jeuglede vanaf Gr RR tot Gr 3. Gedurende hierdie kamp kry die kinders die geleentheid om die volgende spesialisasies af te handel: Afrikanerkindjie (gr RR en R), Dias (gr 1), Ou Kaap (gr 2) en Immigrante (gr 3). Met hierdie spesialisasies begin ons vir die jeuglede ’n geskiedenis tydlyn skep vanaf die ontdekking van die Kaap die Goeie Hoop tot en met die tydperk van die Britse Setlaars.  Hierdie geskiedenis tydlyn word vervolg op die Snr Hanekam kamp.

Senior Hanekamkamp

Hierdie kamp het van 30 Junie tot 2 Julie te Van Stadenskloofterrein plaasgevind.  Hierdie kamp is vir alle jeuglede vanaf Gr 4 tot Gr 7. Gedurende hierdie kamp kry die kinders die geleentheid om die volgende spesialisasies af te handel: Groot Trek (gr 4), Delwerye (gr 5), Anglo-Boereoorlog (gr 6) en Afrikanerkind (gr 7). Met hierdie spesialisasies begin ons vir die jeuglede ’n geskiedenistydlyn skep vanaf die Groot Trek tot en met die Anglo-Boereoorlog.

Seelewe Verrykingskursus

Alhoewel Die Voortrekkers ’n kultuurorganisasie vir die jeug is, kan ons nie funksioneer sonder volwassenes wat bereid is om te help nie. As sulks word daar dan ook gereeld verrykingskursusse aangebied om hierdie volwassenes toe te rus vir hulle groot taak.

Somerset-Oos kommando het gedurende die naweek van 12 tot 14 Mei 2017 ’n Seelewe Verrykingskursus bygewoon te Boknes.  Gedurende hierdie kursus is die volwassenes toegerus met die nodige kennis om te oorleef langs die see en uit die see. Die kursus is goed bygewoon deur volwassenes vanuit die hele Oos-Kaap sowel as Noord-Kaap.

Kongres te Bloemfontein

Alle Voortrekkers is gedurende Julie 2017 opgeroep om die Kongres te Bloemfontein by te woon.  Somerset-Oos Voortrekkers het aangesluit in die bussie met ander Oos-Kaap Voortrekkers wat na die kongres gereis het.  Daar het ons by die ander 400 kongresgangers aangesluit. Ons het heerlik saamgekuier met volwassenes uit ander provinsies, en selfs Namibië. Ook het ons na hartelus inkopies gedoen by die Voriemôl.

Spesdag 2017

Somerset-Oos Voortrekkers op 11 Maart 2017 ’n Voortrekker Spesdag bygewoon in Port Elizabeth.  Tydens hierdie dag kan die jeuglede spesialisasies verwerf as hulle al die vereistes nakom. Die dag is bygewoon deur 190 jeuglede en 44 volwassenes.

Willem van der Merwe van Blouwaterbaai Lewensreddingsklub het vir die Gr R tot Gr 2-groep ’n lesing aangebied oor waterveiligheid.

Mark Marshall van Sandula Conservation het vir die Graad 4-groep ’n slanginligting- en hanteringsessie aangebied. Spesialisasies wat aangebied is, is o.a. Seepret, Dierekennis en Seremonies.

Deur: Lizan Burger