SPDW 2019 #Kontreikoerant

deur Leonie Steenberg

SPDW – Sentraal Penkop en Drawwertjie Waterwerkkamp is die mees sentrale waterwerkkamp van Die Voortrekkers tydens die Maart/April-skoolvakansie – elke jaar.

Op die oewer van die grootte Vaaldam het ons vanjaar die voorreg gehad om die grootste kamp op hierdie terrein ooit aan te bied. Welgedaan Kaptein Gawie … ons salueer jou!  Want vakansies is gemaak om vakansie te hou …

SPDW vind plaas waar die rivier inloop in die Vaaldam; goue sandstrande wat herinner aan die see, het ons begroet met ons stranding op die terrein. ’n Helder gladde oppervlak van water wat saggies teen die oewer klots, ’n hemelblou swembad en vrolike helder gekleurde seile van Volwasse Seilkuns se seilbote het vol belofte gelê en wag. Reuse “steaks” is afgelaai vir ons kampbraai wat monde laat water het … Beter kos teen goeie pryse is oom Gawie se magievreugde J. Dit is voorwaar ’n kamp met oorspronklike kindervriendelike disse, taco met hoender pops, wafels met stroop en roomys, herderspastei, vis en tjips, en om die volwassenes te troos, ’n bord egte boerekos voor almal weer huiswaarts keer …  #lipleklekkerte …

Blinknatlywe het die water laat spat rondom die boot, paparatzi, kano’s, seilbote, vlot, asook in die swembad.

Die graad 6’e by Redding het geleer hoe om lewens in verskeie situasies te red (ons eie asook ander mense) tydens rook/brandgevaar, ontvoering, molestering, verdrinking; hoe om sterk boeliemaatjies af te weer; interaksie met polisie te hanteer; maar die lekkerste van als het ons in die feetjiebos skuilings gebou, en Milo en marshmallows gehad …

Waterbewustheid het op vindingryke wyse die kamp se water gesuiwer. Orals het verskeie eksperimente (soos wafferse navorsers) om water te suiwer, kop uitgesteek. Die besoek aan die damwal wat tonne en tonne water terughou, met ’n skuilingbou-aksie in die … feetjiebos, het gesorg vir ongekende pret en asemwegneem-ervarings. ’n Groot groep van die graad 6’e van verlede jaar het spesiaal teruggekeer om hierdie ervaring te deel … Hulle het heel jaar beplan en gewerk aan ’n stylvolle veldtoiletstelsel …  Wel gedaan meisies …

Die Graad 5’s van Roeikuns (’n hele 70 Vories) het eiland toe geroei (meer as 1.5 km heen en weer) en die albekende pragtigste waterseremonie op die dam/strand gehou … Baie dankie tannie Nadia, dat jy al ons maatjies betrek het om die lieflike geleentheid saam met julle te ervaar. Seilkuns het gehelp om die seremonie kleurvol in te kleur met hul seile wat saam met die motorboot die horison gespan het.

Varswaterdierekennis het die leeuwelpies bottelmelk gevoer en krokodille getroetel, elkeen het sy eie vuurvliegie, in ’n bottel, geplak om hulself te beskerm (op die wilde uitslaap) op ’n regte krokodilplaas.

Erfgrond het die kamp per bus verlaat om die omgewing te verken. Plaasboere en plaasgereedskap, vee-vendusies, historiese erfenisse, grondmonsters (nie Groendammonsters nie) is ervaar en versamel. Hulle was gelukkig betyds terug om Kuifie se besoek saam met ons eie Groendammonster te beleef.

Kuifie het sy opwagting gemaak in ’n kano wat hy ewe fluks moes roei (die Groendammonster se hande is maar lomp.) Aan wal het hy heerlik saam met die Voortrekkerkinders geflos, seker die wat hy styf was die volgende dag … Elke Vorie het kennis gemaak met ons historiese held. Dankie Kuifie vir jou heerlike besoek saam met oom Danie Langner.

Waterfiksheid het eindelose pret en plesier in die water gehad. Hulle het ’n yslike vlot gebou om hul amper 50 divisielede kans te gee om heerlik te kan roei. ’n Groep geesdriftige volwassenes kon die veiligheid van elke fiksie onder hand hou. Die Paparatzi en swem strand toe was beslis van die kursus se hoogtepunte. Welgedaan fiksies met die wen van die Geesbeker … alweer!

Ons kyk met genoegdoening, maar ook hartseer terug na Groot Trek (Graad 4).

Hierdie jaar het hulle met groot gees en baie oulike kindertjies die spesialisasie vaarwel toegeroep. Tolletjie brei, weergalm van … “Melktert, melktert 50 sent ’n lek” …, dolosse speel, kettieskiet, suurlemoentert, broodbak, botter karring, was maar ’n paar van die aktiwiteite wat “Groot Trek-ogies” laat blink het en vele monde laat water het. Dankie tannie Dora-Ann vir jare se geskiedenis wat jy met ons gedeel het. Ons sien jou volgende jaar in jou nuwe pos.

Hou hierdie spasie dop vir 2020 se nuwe spesialisasie …

Paraatheid (Graad 3) het ons almal op ons tone gehou. Wat is dan lekkerder as om met vuurhoutjies en kerse te speel, seine met flitsligte te stuur en wegkruipertjie met moddergesigte te speel en om hoeke met “bokskarre” te woerts.

Krappies en Modderbekkies ( Graad 1 en Voorskool) het die kampterrein vol beloftes deurgehuppel, vele speletjies gespeel, grootoog snoepie met hul eie “kredietkaarte” gaan koop waar hul self kon besluit waarop om hul geldjies te spandeer. Waar koop jy nog ’n speelding vir R2? Swem in die dam, swem in die swembad, roei op ’n kano, ry op ’n boot … water wat spat, elke dag, heeldag …

Ons graad 6-hengelaars het elkeen ’n vissie of drie, selfs tien gevang. Natuurlik moes hul op egte vissermantradisie hul eerste vis, grootste vis, mooiste vis, swaarste vis, soen. Baie verskonings om ’n soen te plant …

“Jou Besluit” ons kamptema, het geklop in die harte van ons 400 kampers regdeur die kamp.  Die kinders het geleer besluite is keuses wat jy in jou lewe neem waarvoor jy verantwoordelikheid moet ervaar. Elke besluit lei weer na ’n volgende besluit.

 

Pak so lank jou tasse vir 2020 …

Wees Positief en neem “Jou Besluit“ vir ons volgende kamp …

Wat dink JY is 2020 se kamptema?

 

Onthou deur:  Leonie Steenberg

SPDW 2019

Volg ons op Facebook: Die Voortrekkers: SPD Waterwerk Kamp – De Bank

Fotograaf: Esther Louw

Bekyk ons foto’s op: www.spdw.co.za