SPDW 2021 – Uitgehonger vir kamp!
deur Gawie Naudé
Uitgehonger vir ’n Voortrekkerkamp het SPDW se manskappe vroeg op Saterdag 24 April 2021 opgedaag. Tussen ’n warboel van georganiseerde chaos begin die tente een na die ander hul staanplek kry en word tente opgeslaan en tentpenne ingekap. Die Matrose onder leiding van die Veldkornette gee hand by en teen 13:00 is die kamp reg om te begin. Na middagete word almal verwelkom, in hulle divisies opgedeel en is die SPDW-vaart reg om ankers te lig!
Die amptelike openingseremonie vroegaand is, soos gewoonlik, ’n luisterryke ervaring met motorbote wat ingejaag kom terwyl seinfakkels die naghemel verlig. Nadat 2021 se vaandel aan die kampraad oorhandig is, word die kamp amptelik geopen met die tema LANSEER GROOT.
Die volgende paar dae word daar gekamp, geleer en gespeel soos net PD’s kan. Die dam is ’n bedrywigheid van aktiwiteite. Een kant gooi die hengelaars hul lyne in, terwyl die Roeiers die dam vol roei. Waterfiksheid het pret en plesier in die water tussen hulle vasbytaktiwiteite, verbete word daar aan drywende dromme vasgeklou of roei op ’n vlot in die dam. Redding is die hele terrein vol besig om te leer hoe om by ’n gebou wat aan die brand is, uit te kom tot hoe om ’n maatjie uit die water te red. Waterbewustheid evalueer die dam se water en leer hoe om, onder andere, water te suiwer.
Maandagoggend verlaat Redding en Waterbewustheid die kamp en bring die dag en aand deur in die feetjiebos waar hulle van hulle “ratpacks” af leef en in hangmatte slaap!
Teen die einde van die week het die volwassenes wat die Seilkuns-kursus bygewoon het, soos wafferse ervare seilers aan ’n regatta deelgeneem. Almal is dit ewe dat Seilkuns groot pret en plesier is wat elke volwassene in Die Voortrekkers ten minste een keer moet ervaar!
Erfgrond het ons al vroeër verlaat en kry eerstehandse ervaring op ’n plaas buite Frankfort, onder andere kry hulle kans om beeste se ore te merk. Tussen die voëltjies ring en leer van saai en oes, en met die toerusting speel, word hulle wys gemaak van die belangrikheid van boerdery. Hulle besoek en ervaar ’n regte veiling en slaap een aand oor in die enigste kerk in Suid-Afrika wat ’n koepeldak het. ’n Besige program met tonne onvergeetlike ervaringe verseker dat die Beloftespesialisasie volledig kafgedraf word. Hulle portefeuljeboeke getuig van die harde werk wat ingesit is ter voorbereiding vir hulle Voorslag-kwalifikasie.
Ruimtewaarneming word die eerste keer hierdie jaar by SPDW aangebied en is ’n reusesukses. De Bank-kampterrein is die ideale terrein om die naghemel te verken. Die “ruimtemannetjies” met hulle grys hoedjies vertel opgewonde wat hulle geleer en gesien het. Paraatheid het ook ’n vol program en tussen al die leer en speel, kry hulle ook ’n voorsmakie van wat pret op die oewer en dam alles behels!
Die graad 3’s ontvang ’n “hoe oorleef ek ’n gebiedskamp”-sessie waar hulle gewys word om jou tent reg te kry vir inspeksie, en die belangrikheid om jou tent altyd netjies te hou. Hulle word gewys hoe om te pak en jouself reg te kry vir die volgende kamp. Hulle kry ook ’n toer van die kampterrein en besoek die kombuis, admin en praat ook met die noodhulptannie.
Die krappies (gr. 1 en 2) werkskaf in die grond en verdien sodoende hulle Tuinier-kenteken. ’n Pragtige “welkom”-tuin word aangelê by De Bank se ingang en boekmerke met geparste blomme word gemaak. Hulle kry ook geleentheid om saam met matrose op die dam te roei!
Elke PD (van gr. R-7) op die kamp het ’n waterveiligheidsessie bygewoon waar hulle geleer het hoe om veilig in water te speel.
Soos gewoonlik smul die SPDW-manskappe te heerlik aan SPDW se vakansiespyskaart. Die SPDW-kombuis is voorwaar ’n wenspan!
SPDW se leuse is nie verniet, “Want vakansie is gemaak om vakansie te hou” nie, want tussen al die harde werk en leer, is daar meer as genoeg tyd vir lekker speel. Die hele kamp het deelgeneem aan ons jaarlikse skeerroomgeveg, waarna almal in die dam afgespoel het. Daar is kleilat gespeel en natuurlik by die glykabel afgegly in die dam in. Almal op die kamp het ook geleentheid gekry om motorboot te ry en is ook op ons Poperazzi agter ’n boot aangesleep! Na jare lange diens het die Poperazzi sy laaste lug uitgeblaas en is hy vinnig oornag vervang met ’n nuwe speelding wat die Voortrekkertjies vir nog jare pret gaan gee.
Donderdag word die ankers van SPDW 2021 gesak en verlaat die manskappe die skip, moeg maar tevrede, met planne reeds in die kop van wat hulle volgende jaar by SPDW gaan doen.
SPDW bedank almal oud en jonk, divisieleiers en offisiere, Staatmakers en matrose en natuurlik die PD’s vir elkeen se inset wat van SPDW 2021 die onvergeetlike ervaring gemaak het wat dit was.
Na ’n jaar waar daar nie gekamp was nie, was dit net wat elke Voortrekkerhart nodig gehad het!